PANNENBERG, WOLFHART

PANNENBERG, WOLFHART (1928–) is in Stettin, Duitsland (vroeër Pole), gebore. Pannenberg het sy teologiese studie na afloop van die Tweede Wêreldoorlog* aan die Universiteit van Berlyn begin en daarna ook aan die universiteite van Göttingen en Basel studeer. Pannenberg voltooi uiteindelik sy doktorale proefskrif aan die Univer­siteit van Heidelberg onder leiding van Ed­mund Schlink. Gedurende sy studie in Basel, Switserland, het Pannenberg ook onder Karl Barth*, studeer. Pannenberg het altyd Barth se “Woord van God”- teologie waardeer as ’n post-Kantiaanse (Kyk by: Kant, Immanuel) vernuwing van die Reformasie*-teologieë van Martin Luther* en Johannes Calvyn*. Reeds as student was Pannenberg daarvan oortuig dat Barth se skerp kritiek op alle vorms van natuurlike teologie ’n radikale teologiese oorreaksie verteenwoordig het. Pannenberg se kenmerkende “teologie van die geskiedenis” was daarom meer simpatiek teenoor God se algemene openbaring* in die skep­ping* en geskiedenis. Hierdie benadering sou uiteindelik kenmerkend van sy interdissiplinêre teologie word, asook vir die feit dat Pannenberg so ’n groot bydrae tot die huidige “teologie* en wetenskap*”-debat sou lewer.

Pannenberg was aanvanklik dosent aan die Universiteit van Heidelberg en later professor in teologie aan die Kirchliche Hochschule in Wupperthal (1958–1961) en die Universiteit van Mainz (1961–1968). Hy was ook professor in teologie asook direkteur van die Ekumeniese Instituut aan die Universiteit van München (1969–1993). Die voltooiing van sy Sistematiese Teologie was die kroon op ’n lang en kreatiewe loopbaan.

Sidebar