PANNEVIS, ARNOLDUS

PANNEVIS, ARNOLDUS (1838–1884) was onder meer skeepsdokter in die Neder­landse vloot, ’n gegradueerde taal­kun­­dige, onderwyser en kampvegter vir die er­­kenning en ont­wik­keling van Afri­kaans*. Die morele agteruitgang van die Kaapse ge­meen­skap het Pan­nevis veral toege­skryf aan ’n gebrek­kige begrip van die Bybel* om­dat dit nie in die toenemende aantal Afrikaans­spreken­des se eie taal oor­gedra is nie. Veral as onderwyser in klas­sieke tale aan die Paarl-Gimnasium wat hoofsaaklik deur die toedoen van sy vriend, ds GWA van der Lingen*, in 1859 tot stand gekom het, het Pannevis besef dat Afri­kaans ’n nuwe taal was wat aansienlik van Neder­lands verskil het. Met die groot aantal bruin Afrikaanssprekendes, het hy ook daarvan bewus geraak dat Afrikaans deur die mees­te inwoners van die Wes-Kaap gepraat word. Die meerderheid se mening was egter in daardie stadium dat Afrikaans eers sy kombuistaal-stigma moes verloor voordat dit die Woord van God waardig kon weergee. Onder meer vanweë Pannevis se aandrang op ’n vertaling van die Bybel in Afrikaans, is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig wat stukrag verleen het aan die ontwaking van die Afrikaanse Taalstryd en die nasionale bewussyn van die Afrikaner*. Sy bydrae hierná was veral om by wyse van die lees van en skryf in Afrikaans die uitbou van die taal te bevorder. Hy het self deur sy eie publikasies ’n uitmuntende voorbeeld gestel. As kerkmens het Pannevis benewens sy uitsprake ten gunste van ’n Afrikaanse Bybelvertaling*, die toename van Engelse kerkdienste in die NG Kerk* bestry.

Vir verdere lees: PJ Nienaber 1968. Dr Arnoldus Pannevis: Vader van die Afri­kaanse taal. Kaapstad: Nasionale Boek­handel.

 

Sidebar