PANTEÏSME

PANTEÏSME is afgelei van die Grieks* vir “alles” (pan) en “God” (theos), en beteken letterlik: alles is God of Goddelik. God word dus met die kosmiese werklikheid vereen­selwig. Twee grondvorms bestaan: die grens tussen God en mens vervaag, bv in die strewe na mistieke eenwording met die goddelike (tipies-Oosterse en ander vorms van mistisisme*) of waar die mens self vergoddelik word (elemente hiervan by die New Age*-beweging); óf die grens tus­sen God en werklikheid vervaag, bv waar die materiële wêreld as goddelik-besield voorgestel word (vorms van animisme*). Van elke grondvorm is verskeie variante moontlik, godsdienstig of wysgerig van aard, of ook as naïewe of onbedoelde panteïsme, bv vorms van natuurmistiek. Tussen die panteïsme, in watter variasie ook, en die Bybelse* boodskap oor God, bestaan ’n onversoenbare teenstelling. Veral die verhewenheid en persoonlikheid van God is ter sake. In sy bemoeienis met die wêreld en sy gemeenskap met die mens, boet God nooit sy andersheid en verhewenheid in nie; en waar God spreek, handel en liefhet, is dit as ’n “Iemand”, ’n “Ek”, nooit as “iets”, ’n on­persoonlike kosmiese krag wat alles besiel nie. Enige panteïstiese voorstelling maak God soveel minder as die Een wat ons in Jesus* Christus* ontmoet (vgl 2 Kor 4:6). (Kyk ook: Panenteisme.)

Vir verdere lees: JJF Durand 1980. Die lewende God. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar