PARADIGMALEER

PARADIGMALEER is die benaming van die kern van Thomas Kuhn se teorie oor die historiese ontwikkeling van die wetenskap*. In sy The Structure of Scientific Revolutions (1962) stel Kuhn dit dat die wetenskap nie reglynig nie, maar op ’n diskontinue en re­volusionêre manier vooruitgaan deurdat een teoretiese struktuur vervang word met ’n ander een wat onversoenbaar is daarmee. Volgens Kuhn word revolusionêre verande­ring in die wetenskap voorafgegaan deur ’n fase van normale wetenskap – waartydens wetenskaplikes gerig word deur ’n sekere paradigma van wetenskapsbeoefening. ’n Paradigma behels algemeen-aanvaarde teoretiese aannames, wette, en tegnieke vir hulle toepassing, asook sekere kernvoorbeelde van wat geld as wetenskaplike pro­bleme en oplossings daarvoor. Binne so ’n paradigma kom wetenskaplikes mettertyd te staan voor anomalieë wat aanvanklik met hulp- en ad hoc-hipoteses verklaar kan word. Die gewig van hierdie anomalieë word later egter so groot dat die geldende paradigma in ’n krisis gedompel word. In die tydperk van krisis vind grootskaalse eksperimentering plaas met nuwe teoretiese aannames, wette en prosedures, totdat een van hulle na vore tree as ’n nuwe paradigma – en die oorspronklike, pro­blematiese paradigma agtergelaat word. ’n Nuwe era van normale wetenskap tree dan in, tot tyd en wyl die nuwe paradigma op sy beurt in ’n krisis verval.

Vir verdere lees: AF Chalmers 19862. What is this Thing called Science? Philadel­phia: Open University Press.

Sidebar