PARALLELISME

PARALLELISME is een van die basiese kenmerke van Hebreeuse* poësie. Twee sins- of versdele word normaalweg parallel opgebou. Verskeie soorte parallelismes kom voor: 1. Sinonieme parallelisme – wanneer die tweede vershelfte die inhoud van die eerste helfte met sinonieme begrippe herhaal (Num 21:28). 2. Antitetiese parallelisme – wanneer die inhoud van die eerste en tweede vershelftes met mekaar gekontrasteer word (Spr 10:1). Sintetiese parallelisme – wanneer begrippe van die eerste versdeel in die tweede verduidelik of aan­ge­vul word (Spr 18:21). 4. Emblematiese parallelisme – wanneer die tweede versreël ’n vergelyking (simile) met die eerste is (Ps 42:1; Spr 25:13). 5. Trappe-parallelisme – wanneer ’n begrip of deel van ’n versreël in die volgende herhaal en uitgebrei word (Ps 29:1-2). 6. Chiastiese parallelisme – wanneer die inhoud van die versreëls in ’n ABBA-patroon gerangskik is (Ps 124:7). 7. Janus-parallelisme – wanneer die inhoud van die eerste en derde versreëls rondom ’n begrip(pe) in die middelste versreël wentel (Hoogl 2:12; zamir – om te sing – hou verband met bome snoei en snare pluk).

Die funksies van dié stylfiguur is die volgende: dit skep ritme, bevorder bondig­heid, beklemtoon die belangrikste punt, bewerk ewewig, beklemtoon deur herha­ling, en verklaar onbekende sake.

 

Sidebar