PASCAL, BLAISE

PASCAL, BLAISE (1623–1662) se eerste groot werk wat uit ’n versameling van 18 briewe bestaan het, Les provinciales, spruit voort uit die stryd tussen die Janseniste (by wie sy familie se simpatie gelê het) en die Jesuïete*. Jansenisme was ’n Katolieke* beweging wat die kerkvader Augustinus* se standpunt oor genade en die vrye wil ondersteun het. In Parys het Pascal ’n wêreldse lewe gelei tot en met sy radikale godsdienstige inkeer in die nag van 23 November 1654. Daarna het hy homself volledig in askese* onttrek by die “Een­sames” van Port Royal. Hy begin skryf aan ’n apologie van die Christelike godsdiens, wat onvoltooid gebly het, maar wel in 1667 postuum gepubliseer is onder die titel Pensées de M Pascal sur la religion. Hierdie meesterstuk, wat op ’n besonder passievolle en noukeurige manier geskryf is, is sedertdien tallose kere herdruk as die Pensées. Hy het sy merk gelaat op die gebied van wiskunde – reeds op 16-jarige ouderdom – en natuurwetenskap (bv die Stelling van Pascal; die Driehoek van Pascal), op die gebied van die filosofie (sy fokus op denke van die innerlike lewe teenoor die oorheersende rasionalisme van Descartes*), maar veral op die religieus-letterkundige gebied. Denke gee insig aan mens-wees, maar vir hom bly die mens ten diepste ’n misterie wat nooit in begrippe volledig bevatlik sou wees nie. In die esprit de finesse (ingesteldheid van insig) en nie in die esprit de geometrie (ingesteldheid van meetbaarheid) nie, het die diepste werklikheid opgesluit gelê. Nie die les raison de la raison (redes van die verstand) nie, maar die les raison du coeur (redes van die hart) het die swaarste geweeg in die keuses wat die mens voortdurend moes neem, veral bv ten opsigte van die bestaan van God, wat neerslag gevind het in sy befaamde Pascalse weddenskap.

 

Sidebar