PASCHASIUS (RADBERTUS) 

 

PASCHASIUS (RADBERTUS) (786–860) se belangwekkende De Corpore en San­guine Domini (Oor die liggaam en bloed van die Here) was die eerste verhandeling oor die eucharistie*. Hy is ook die skepper van die begrip transsubstansiasie* wat deur die Katolieke Kerk* gebruik word om aan te toon op watter manier Jesus* Christus* in die nagmaal* teenwoordig is. Radbertus is as ’n klein babatjie op die trappe van die Notre Dame-klooster in Soissons, Frankryk, wees agtergelaat. Hy is deur die nonne* grootgemaak voordat hy sy opleiding by die monnike* van St Peter’s gekry het. Nadat hy op 22 by die Benediktynse klooster* van Corbie aangesluit het, is hy georden en het hy die kloosternaam “Paschasius” aanvaar. Uiteindelik het hy in 844 ab* van Corbie geword. Hy het egter nooit ’n priester*2 geword nie.

Sy De Corpore en Sanguine Domini was ’n opleidingsdokument vir Saksiese monnike. Hy verduidelik daarin dat die brood by die eucharistie substansieel die mens (vlees) is wat uit Maria* gebore is, wat gely en opgestaan het en wat deur God se almag by elke viering van die eucharistie vermenigvuldig word. Hy het egter daarop aangedring dat dit ’n geestelike waarheid is, en nie ’n fisieke werklikheid nie. Hierdie ontologiese* beskrywing van die eucharis­tie is heftig deur sy kollega Ratramnus* teengestaan wat vir ’n meer geestelike teenwoordigheid van Christus in die nagmaal gepleit het.

Hy is waarskynlik ook die skrywer van Pseudo-Hieronimus se negende brief, wat ’n belangrike dokument geword het in die Katolieke Kerk se leer van die hemelvaart van Maria.

Sidebar