PASGA

PASGA is die fees wat die verlossing van Israel* uit Egipte* gedenk. Dit kom van die Hebreeuse* woord pesa wat gebruik is vir die verbygaan van die “doodsengel”. Dit is met die volmaan van die eerste maand van die Bybelse* kalender (14/15 Abib*, later Nisan*; Kyk by: Kalenders) gevier en het sewe dae geduur (Num 9:1-4). In Eks 12:1–13:16, wat van die instelling met die uittog* uit Egipte vertel, is die kern die se­remoniële slag en eet van die offerlam. Van elke huis waar die bloed van die lam aan die deurkosyn gesmeer is, is die eersgeborene gespaar, in teenstelling met die tien­de plaag waardeur Egiptiese eersgeborenes getref is. Saam met die lamsvleis is onge­suurde brode, wat weens die haas van die uittog nie ingesuur kon word nie, geëet. Volgens geleerdes kom hierdie elemente dalk uit verskillende agtergronde: die bloed­smering van die lam uit ’n veeteelt­omgewing en die ongesuurde brode uit ’n graanverbouingskultuur (sien Lev 23:9-14). Hierdie seremonies is egter met die historiese uittog-gebeure verbind om as blywende viering daarvan te dien. ’n Later ontwikkeling blyk uit Deut 16:1-8 waar daar nie meer sprake van die bloedseremonie is nie en die ongesuurde brode meer sentraal staan. Hier word die fees by die sentrale heiligdom gevier, en is dit nie meer ’n familiefees soos vroeër nie. Geleenthede van nasionale toewyding het dikwels met die Pasga saamgeval, bv 2 Kron 30 en 35. Eseg 45:21-24 voorsien dat die Pasga ook in die herstelde bedeling gevier sal word, maar dan met elemente wat nie voorheen gebruiklik was nie. In die Nuwe-Testament*-tyd is die lam by die tempel*3 geslag, maar die fees is in die familiekring gevier. Ná die verwoesting van die tempel in 70 nC het die slag van ’n lam verval en sedertdien word dit in die Jode*dom suiwer as familiefees gevier.

Vir verdere lees: R de Vaux 1974. Ancient Israel – Its life and Institutions. New York: McGraw Hill.                           

Sidebar