PASGAMAAL / PAASMAALTYD

PASGAMAAL / PAASMAALTYD. Pasga kom van pesach (Hebreeus*) – om verby te gaan of oor te slaan. Dit verwys na die engel*2 van die Here wat, net voor die tiende plaag (Kyk by: Plae) Egipte* getref het, die huise van die Israeliete*, wat met bloed bestryk was, verbygegaan het, sodat die plaag hulle verbygegaan het en die Israeliete van slawerny* verlos is. Die jaarlikse viering van Pasga het dié verlossing deur God gevier. Die hart van die fees, wat ’n week duur, is die Pasgamaal, waartydens Jode* tradisionele disse eet wat hulle herinner aan die verlossing uit die slawerny in Egipte. So herinner die soutwater wat saam met ’n eier en ’n groente geëet word, die Jode aan die trane wat hulle in Egipte gestort het, die bitter kruie aan die bitter dae in Egipte, ’n mengsel van heuning en appel aan die klei waarmee hulle moes bou, en die matsa, die ongesuurde brode, aan die feit dat daar nie tyd was om deeg te laat rys nie.

Jesus* is tydens die Paasfees gekruisig. Die laaste maaltyd wat Hy en sy dissipels* geëet het, was ’n Pasgamaal. Dit is ironies dat Jesus kort ná die viering van die bevrydingsfees in hegtenis geneem is, maar nie toevallig nie. Juis sy gevangenskap, lyding en dood* bring vir sy volgelinge oorwinning oor sonde* en dood. Daarom brei Jesus Israel* se bevrydingsfees uit deur aan die einde van die maaltyd die ongesuurde brood te breek en te sê dat, as sy dissipels weer die Pasga vier, moet die gebreekte brood aan die einde van die maal hulle herinner aan Jesus se liggaam wat vir hulle gebreek is. Jesus maak net so met die beker ná die maaltyd (wat in die Pasga-liturgie die “beker van verlossing” genoem word) en herinner sy dissipels* daaraan dat sy bloed vir hulle vergiet sou word.

Die volgelinge van Jesus het dié jaarlikse herdenking uitgebrei na ’n meer gereelde viering. Wat waarskynlik gebeur het, is dat sy volgelinge jaarliks die Pasga gevier het met die nuwe betekenis wat Jesus daaraan gegee het – maar dat Jesus se dood en opstanding* ook meer gereeld gevier is deur ’n gewone ete, waartydens Jesus se dood en opstanding onthou is, en dat dit “die bre­king van die brood” is wat gereeld in huise gevier is (waarvan Hand 2:46 praat), die “liefdesmaaltye*” waarvan Judas vers 12 praat, en die maaltye waarna 1 Kor 11:20 verwys.

Die Joodse Pasgamaal het nog ’n verdere bydrae tot die verstaan van die Christelike nagmaal* gemaak. Die laaste van die vier bekers wyn wat gedrink word, is die “beker van Elia”, vir wie daar ’n plek aan tafel gedek is, ingeval die profeet die Messias* se koms tydens die ete sou aankondig. Net voor Elia* se beker gedrink word, word ’n kind uitgestuur om te kyk of Elia (en dus ook binnekort die Messias) nie reeds voor die deur staan nie. So herinner dié tradisie Christene* dat die nagmaal nie net ’n herinneringsmaal is nie, maar ook ’n maaltyd is wat die toekomstige koms van die Messias vier.

Vir verdere lees: IH Marshall 1980. Last Supper and Lord’s Supper. Exeter: Pater­noster.

Sidebar