PASTORALE BERAAD

PASTORALE BERAAD moet onderskei word van “Bybelse*” of “Christelike” beraad. Waar eersgenoemde die resultaat is van ’n sinvolle integrering van teologie* enersyds en insigte uit die geesteswetenskappe andersyds, is laasgenoemde meer skepties oor sielkundige en ander teorieë. Laasge­noem­de is ook geneig om meer direkte advies uit die Bybel* te gee.

Pastorale beraad verwys na die teorie, prosedures, metodes en kommunikasie-luistervaardighede van gesprekvoering (praatterapie). Die fokus is onder andere op die spiritualiteit* van gelowiges en hulle geloofsbronne – bv gebed*, sa­kra­mente*, ondersteuningsnetwerke/koi­nonia (soos omgeegroepe*) en ’n toepaslike verstaan van God (Godskonsepte, “God-images”). Pastorale beraad wil God se beloftes laat spreek binne verskillende lewensituasies en verbande lê tussen mense se lewensverhaal/narratief en die evangelieverhaal. Berading beoog gestruktu­reer­de hulpverlening binne ’n Christelike konteks. Die voorveronderstelling is: God se sorg/medelye met die oog op geloofshulp as lewenshulp.

Die intermenslike dialoog vind plaas binne ’n trialoog – met die werk van die Heilige Gees* as derde betrokkene. Lydens­pastoraat werk onder andere met die klagformules in die Psalms*.

Terwyl psigoterapie meer fokus op persoonlikheid/gedrag, is die pastoraat se invalshoek die spirituele dimensie. Beide is besorg oor die hele mens in al sy/haar verhoudings, maar uit verskillende perspektiewe/invalshoeke.

Vir verdere lees: DJ Louw 2004. Pastoraat as vertolking en ontmoeting. Teologiese ontwerp vir ’n basisteorie, antropologie, metode en terapie. Wellington: Lux Ver­bi.BM. HW Stone 1988. The Word of God and Pastoral Care. Nashville: Abingdon. G Heitink 1977. Pastoraat als hulpverlening. Kampen: Kok. J Patton 1990. “Pastoral counseling” in: RJ Hunter (red) Dictionary of Pastoral Care and Counseling. Nashville: Abingdon.

Sidebar