PASTORALE BRIEWE, DIE

PASTORALE BRIEWE, DIE. Paulus* se twee briewe aan Timoteus* word saam met dié aan Titus* die “Pastorale briewe” ge­noem – ’n term wat vir die eerste keer in 1753 deur die piëtistiese (Kyk by: Piëtisme) teoloog Paul Anton gebruik is. Hulle word sedert die 19de eeu saam gegroepeer omdat hulle groter oor­een­komste met mekaar as met die ander briewe van Paulus vertoon. Hulle is nie soos die ander briewe van Paulus direk aan kerke/gemeentes* geskryf nie, maar aan indiwidue. Hulle handel meestal oor die werk van die betrokke pastor* (Timoteus* en Titus*) in die gemeentes van Efese* en Kreta*. Hulle deel ook dieselfde inhoud (bv die kerklike ampte en/of etiese kwessies) en bevat begrippe en taal wat in nie een van die ander briewe van Paulus voorkom nie (soos “verlosser”). Ten spyte van hierdie ooreenstemmings, kan die verskille tussen die drie nie verwaarloos word nie en moet elkeen se unieke aard in gedagte gehou word.

Die Pastorale Briewe was oor die jare nie baie gewild by sekere navorsers nie, omdat gedink is dat hulle uit ’n later tyd kom en afwyk van die oorspronklike, suiwerder Pauliniese boodskap. Hulle is lank as moralistiese tekste gelees waarin die eerste Christene* se oorspronklike visioen van ’n spoedige koms van Jesus* op die agtergrond geskuif is en daar gefokus is op die kerk* as instelling. Dan word die briewe ook baie laat gedateer – ongeveer 90 nC – dus lank ná Paulus, en as pseudepigrafiese werke geïntepreteer, geskryf deur ’n derde generasie Christene uit Paulus se skool, maar in sy naam. Dié skrywers sou dan die Pauliniese siening van die Christendom vir hulle tyd drasties verander het. Ander navorsers is meer gematig in hulle siening. Só het sommige die briewe as onsamehangend en fragmentaries beskou en gemeen dit is ’n versameling van Paulus se notas wat later byeengebring en versprei is. Dan kom die duidelike Pauliniese materiaal in die briewe tot hulle reg, maar dit skep ook ruimte vir nie-Pauliniese aspekte.

Hierdie probleme is inderdaad groot, want die briewe veronderstel ’n situasie in Paulus se lewe (sending*werk in Kreta) waar­oor Handelinge* en ander bronne niks sê nie. Dit impliseer dat Paulus ná sy gevangenskap in Rome* vrygelaat is en dat hy verdere sendingreise afgelê het waartydens hy hierdie briewe sou geskryf het. Maar daar is geen bewyse hiervoor nie, sodat dit moeilik is om uitsluitsel te kry.

Dit is nietemin duidelik dat die briewe aan Timoteus unieke temas aansny wat ’n heel ander situasie as Paulus se ander briewe oproep. In albei is daar ’n gevaarlike dwaalleer* wat die kerk bedreig asook duidelike morele verval onder gelowiges (bv dronkenskap, korrupsie, ge­weld­dadigheid, ens). Beide briewe fokus op hierdie probleme, maar elkeen op sy eie wyse.

Sidebar