PASTORALE SIELKUNDE

PASTORALE SIELKUNDE. Akademies gesproke, bestaan daar nie so ’n dissipline of vakgebied nie. Dié term verwys na pogings in óf die sielkunde óf die teologie* om, in die lig van ’n interdissiplinêre aanpak, sielkundige kennis oor die mens te betrek by ’n teologiese of pastorale antro­po­logie. Die kernvraag is hoe om sielkundige kennis te gebruik om die menslike “siel”* in verhou­ding tot God (die spirituele dimensie van ons bestaan) beter te verstaan.

Die term is onder andere gemunt om vas te stel watter gegewens in die sielkunde toepaslik vir die bediening is. Op hierdie manier word probeer om ’n humanitêre en fenomenologiese perspektief op die mens te kombineer met ’n Christelike perspektief: die mens as skepsel van God, sondaar, maar ook verloste, toegerus met die gawes van die Heilige Gees* (die “pneumatiese mens”).

In die volksmond verwys die term dikwels na ’n terapeut wat die Christelike geloofsperspektief in berekening bring tydens berading. Die wetenskapsmodel self is sielkundig sonder dat die antropologiese teorievorming pastoraal, dit wil sê teologies, van aard is. Predikante met ’n M-graad in sielkunde, geregistreer by die Mediese en Tandheelkundige Raad in die RSA, staan dikwels as “pastorale sielkundiges” bekend.

Die waarde van “pastorale sielkunde” is dat dit, vanweë die integrerende benadering, die effektiwiteit van die pastoraat verhoog, veral ten opsigte van kommunikasie- en luistervaardighede. Pastoraat as teologiese dissipline dui op die sorg en troos van God soos vergestalt in verskillende meta­fore, bv die herder-, dienskneg-, wysheids- en die paraklese-metafoor in die Skrif*. Pastoraat skakel met die Christelike tradisie van cura animarum/sielsorg. Binne gereformeerde* konteks is voorheen na die pastoraat verwys as poimeniek/herder­kunde.

Met die opkoms van godsdienspsigologie, word hierdie term soms verwar met die psigiese implikasies van religieuse geloofs­ervarings. In die geval van ’n meer sekulêre konteks, word dit ’n sambreelterm vir alle vorms van spirituele sorg/berading.

Vir verdere lees: DJ Louw 1998. Pastoraat as vertolking en ontmoeting. Kaapstad: Lux Verbi.

Sidebar