PASTORALE SORG

PASTORALE SORG veronderstel die kommunikatiewe handelinge van God se vertroostende en hulpverlenende betrok­ken­heid by mense. Dié kommunikatiewe handelinge vind plaas vanuit ’n Skriftuur­like en psigologiese verantwoordbare pastorale grondhouding. Pastorale sorg fokus veral op die spirituele dimensie van hulp in nood en is op die totale mens gerig. Pastorale sorg, waarvan die geskiedenis ingebed is in die Christelike tradisie, toon ’n bepaalde ontwikkeling. Van ’n aanvanklike kerugmatiese (Kyk by: Kerugma) benadering waar die klem op ’n eensydige verkondiging geplaas word, is daar ’n beweging na ’n deelnemende pastoraat, waar die pastor* instrumenteel is in die begeleiding van mense tot ontdekking van God se betrokkenheid in hulle lewe. Die betekenis van konteks en ’n verskuiwing weg van die eensydige professionele benadering tot die onderlinge versorging van gelowiges, word hierin verteenwoordig. ’n Tweede beweging is van ’n terapeutiese na ’n hermeneuties-georiënteer­de (Kyk by: Hermeneutiek) pastoraat. In die terapeutiese pastoraat is baie klem geplaas op insigte uit die sielkunde, terwyl die hermeneutiese pastoraat minder vra om die verklaring van probleme en méér om die verstaan en verheldering daarvan. Die narratiewe (verhalende) pasto­raat soek bv na tekens van God se teenwoordigheid in die verhale van mense. Belangrike figure in die ontwikke­ling van pastorale sorg as dissipline, was onder meer Boisen, Hiltner, Thurneysen*, Clinebell*, Browning en Gerkin. Plaaslik het Daniël Louw* ’n eie konvergensiemo­del vir pastorale sorg ontwikkel, terwyl Julian Müller* ’n model vir pastoraat van narratiewe betrokkenheid ontwikkel het.

Vir verdere lees: DJ Louw 1999. Pastoraat as vertolking en ontmoeting: ’n Teologiese ontwerp vir ’n basisteorie, antropologie, metode en terapie. Wellington: Lux Verbi.BM. J Müller 1996. Om tot verhaal te kom. Pastorale gesinsterapie. Pretoria: RGN.

 

Sidebar