PATERNALISME

PATERNALISME dui op ’n “vaderlike” optrede waardeur die een deur die ander op ’n bevoogdende en kontrolerende manier behandel en “minderjarig” gehou word. Die ergste vorm van paternalisme is om die ander alle seggenskap oor sake wat hom of haar raak, te ontsê. Paternalisme vertoon verskillende gestaltes. Op ’n interpersoonlike vlak kan die een mens bevoogdend teenoor die ander een optree. In die arbeidswêreld kan die werkgewer die werk­nemers se seggenskap oor sake wat hulle direk raak, ernstig aan bande lê. Ons hoor ook toenemend van die “daddy state” of “pappiestaat” wat daarop dui dat ’n rege­ring onderneem om te voorsien in die behoeftes van sy onderdane en hulle gedrag te reël in sake wat hulle as burgers raak. Paternalisme is ook deur die Chris­telike sending* bevorder, miskien onbedoeld, deur terme soos “ouer en jonger kerke” en “moeder- en dogterkerke” te ge­bruik. Die politieke en ekonomiese mags­verhoudings wêreldwyd word ongelukkig tot vandag toe weerspieël in die dikwels alte paternalistiese houding van Westerse kerke teenoor kerke in Afrika*, Asië en Latyns-Amerika.

Sidebar