PATON, ALAN STEWART

PATON, ALAN STEWART (1903–1988) is die skrywer van novelles, was ’n politieke aktivis en het as ’n leier van die anti-apartheidsbeweging opgetree. Hy het internasionale erkenning ontvang vir sy novelle Cry, the Beloved Country (1948). Hierdie novelle vertel die verhaal van ’n Zoeloe*-pre­di­kant*, Stephen Kumalo. Dit is later musi­kaal verwerk, getiteld Lost in the Stars, met libretto en musiek deur Kurt Weill en Maxwell Anderson. Hy is ook die outeur van Too Late the Phalarope, en van ’n aantal kortverhale en verskeie biografieë, onder andere The Life and Times of Jan Hofmeyr. Sy outobiografie beslaan twee volumes: Towards the Mountains (1980) en Journey Continued (1988). Paton was een van die stigterslede en eerste president (1953–1968) van die Liberale Party in Suid-Afrika wat apartheid* teengestaan en ’n veelrassige alternatief voorgestel het. In 1968 het die destydse regering die Liberale Party verban aangesien dit veelrassige lidmaatskap toegelaat het. In sy jonger lewe was Paton lidmaat van die Metodistekerk*, maar het later lidmaat van die Anglikaanse Kerk* geword. Sy Christelike geloof was onderliggend aan sy lewensinstelling en al sy geskrifte. Hy het verskeie artikels gelewer vir The Christian Century en sal veral onthou word vir “Meditation for a Young Boy Confirmed” (1954). Van sy boek, Cry, the Beloved Country, is reeds twee rolprente gemaak (1951 en 1995) en dit was die basis van die Broadway-stuk, Lost in the Stars.

Vir verdere lees: Bea Lentel 1969. Alan Paton: A Bibliography. Edmund Fuller 1962. Books with the Men behind Them: A Companion to “Man In Modern Fiction”. New York: Random House.

Sidebar