PATRICK

PATRICK (circa 390–460) word beskou as die sendeling* wat Ierland tot die Chris­tendom* bekeer het. Hierdie Romeinse burger, die seun van Calpurnius en Conces­sa, is in Brittanje gebore. Toe hy sestien jaar oud was, het ’n bende Ierse plunderaars hom gevange geneem. Patrick het in ’n Christenhuis grootgeword, maar sy wanhopige situasie as slaaf* het hom nou ernstig na God laat keer. Dit was die begin van ’n persoonlike geloof wat gekenmerk is deur ’n diep spiritualiteit* – goeie voorbereiding vir sy toekomstige werk as sendeling. Patrick het ontsnap en teruggekeer huis toe, waarna hy ’n presbiter (ouderling* in die Vroeë Kerk) geword het. Hy het ’n sterk roeping ontvang om terug te gaan Ierland toe, dié keer as sendeling. Daar was toe al tekens van die Christelike geloof onder die Iere, maar Patrick was oortuig dat hy die plaaslike heerser tot die Christendom moes bekeer. Hy het die hele Ierland deurkruis as sendeling. Hy het die grense van sy bisdomme bepaal volgens die verdeling tussen die land se stamme, en aan die abte* in sy klooster*gemeenskappe ’n hoër rang toegeken as aan die biskop*. Sy werk het waarskynlik bygedra tot die ont­wikkeling van die sterk asketiese (Kyk by: Askese) aard van die kloosterspiritualiteit asook tot die idee van peregrinato pro Christo, waarvolgens ’n sendeling die vreemde ingaan en nooit weer na die sekuriteit van sy tuiste terugkeer nie.

Sidebar