PATRISTIESE TEOLOGIE

PATRISTIESE TEOLOGIE verwys na die skrywes en teologiese werke van die kerkvaders* (patres = vaders) van ongeveer die eerste vyf eeue na Christus*, nie net in hulle indiwiduele hoedanigheid nie, maar ook in die gemeenskaplike verband van sinodes* en konsilies* van dié tyd. Die Protestantse* tradisie beskou die Konsilie van Chalcedon (451) as ’n benaderde slui­tingsdatum vir dié tydvak. Tydens die Kerkhervorming* is daar veral teruggeval op hierdie kerkvaders as teologiese gesag­hebbendes in ooreenstemming met die apos­tels* se geloof.

Die patristiese vaders het oor ’n wye front oor die teologie* geskryf, insluitende die apologetiek* (Tertullianus*), morele teo­logie (Klemens* van Aleksandrië, Ambro­sius*), Bybelse* teologie (Irenaeus*), dogmatiek* (die Kappadosiërs, Augustinus*), mistiek* (Pseudo-Dionisus*), asketiese* teologie (Evagrius), sakramentele teologie (Si­prius), die liturgie* (Kurillos van Jerusalem), die filosofiese teologie (Augustinus). Die patristiek se groot teologiese bydraes was veral oor die Drie-eenheid*, die Christologie* (die leer oor die persoon en werk van Jesus* Christus), leerstellings oor die kerk* en die sakramente*, en oor sonde* en ge­nade*.

Die eiesoortigheid van die patristiese manier van teologie bedryf is breedweg: 1. Dit is in en vanuit die kerk bedryf (daar was nog nie teologiese seminariums nie). 2. Hulle styl van Skrifuitleg was meestal, by gebrek aan historiese perspektief, ’n ver­geestelikte soort eksegese*, onder andere allegoriese* of tipologiese lesings. 3. Dit het ontstaan in die dampkring van aan­bidding* en piëteit. Basilius bespreek b­v die dogmatiese implikasies van verskillende doksologieë*. 4. Dit was ook grootliks ’n ortodokse (“regsinnige”) teologie wat die tradisie help ontwikkel het in ooreenstemming met die grondwerk van hulle voorgangers. Nuwighede is meestal afgewys as kettery*. 5. Die vergeestelikende invloede van die Platonisme en die asketiek het teweeggebring dat dit oorwegend wêreldvreemd was. 6. Daar is ook in gesprek gegaan met die sekulêre filosofieë van die tyd, veral met die Platoniese en stoïsynse denkrigtings.

Vir verdere lees: B Ramsey 1985. Beginning to Read the Fathers. New Jersey: Paulist Press

Sidebar