PAULUS

PAULUS is al die tweede stigter van die Christelike geloof* genoem. Self sou hy hierdie beskrywing afwys. In ’n ietwat minder beskeie oomblik kon hy wel sê “ek het harder gewerk as hulle almal” (1 Kor 15:10), maar min sal hom hierdie aanspraak misgun. Hy was onteenseglik ’n besondere werktuig van die Here om die ontluikende Christendom* in ’n kritieke eerste fase te help vorm. Niemand het die universele dimensies en die radikale konsekwensies van die evangelie* suiwerder raakgesien en meer gedoen om dit van sy Joodse* keurs­lyf te bevry as juis Paulus nie.

Bronne vir Paulus se lewe: Ons belang­rikste inligtingsbronne is sy briewe* en Handelinge*. Die berig in die Tweede Klemensbrief (96 nC) oor Paulus se lewens­uiteinde is ongelukkig vaag en onseker. Van argeologiese* kant help die Gallio*-inskripsie ons om Paulus se lewensloop aan spesifieke datums te verbind. Die apokrie­we Handelinge van Paulus bied allerlei detail oor Paulus se voorkoms (’n klein, vriendelike, kaalkopmannetjie met ruie wenkbroue en bakbene), maar hierdie inligting is heeltemal onbetroubaar.

Die voor-Christelike Paulus: Paulus is rondom 3 nC in Tarsus*, ’n bekende Griek­se* kultuurstad in die noord-oostelike hoek van die Middellandse See, gebore. Die naam Saul* (Saulus) het hy in sy Joodse* ouerhuis ontvang omdat hy, soos die eerste koning* van Israel*, ’n Benjaminiet* was. Soos baie van sy volksgenote het hy ter wille van sy Griekse omgewing ook reeds van kleins af ’n tweede naam gebruik, naamlik Paulos (Paulus). Naas sy streng Farisese opvoeding in sy ouerhuis en in die sinagoge* van Tarsus, het hy ook ’n Griekse skoolopleiding deurgemaak en so die Griekse taal en skryfkuns bemeester. Hy was ’n mens van twee wêrelde – die Joodse en die Griekse – en in sy persoon vloei hulle ineen. Van vaderskant het hy egter ook Romeinse burgerskap geërf (Hand 22:28) – ’n voorreg wat hom later goed te pas sou kom. Ná sy skoolopleiding het hy in Jerusalem* onder die bekende rabbi* Gamaliël* gaan studeer (Hand 22:3). Som­mige meen op grond van 2 Kor 5:7 dat sy pad in hierdie tyd met dié van Jesus* self gekruis het, maar dit is onwaarskynlik. Volgens Handelinge was hy egter wel teenwoordig by die steniging* van Stefanus* (Hand 7:58). Weldra het hy die Christene* met groot woede begin vervolg (Hand 8:3; 9:1; Gal 1:13). Die rede hiervoor lê nie net in sy heftige aard nie, maar ook in sy radikale toewyding aan sy Farisese (Kyk by: Fariseërs) geloofsoortui­gings (Gal 1:14). Volgens Hengel* was dit vir hom die toppunt van kettery* dat Chris­tene ’n Jesus wat soos ’n deur-God-vervloekte aan ’n houtkruis moes sterf (Gal 3:13), as Messias*, Verlosser en Seun van God* kon verkondig.

Paulus die Christen: Onderweg na Damaskus* het Paulus ’n verskyning van die verrese Christus* beleef wat hom, die vervolger, aangespreek en geroep het om Christus se apostel* onder die heidenvolke* te word. Dit het sy lewe onherroeplik verander en hom lewenslank bygebly as bewys van God se ongelooflike genade* (1 Kor 15:10). Sy bekering* tot Christus het onge­veer in die jaar 33 nC plaasgevind, maar sy drie sendingreise begin eers teen 48 nC. In ’n tydperk van agt jaar het hy groot dele van Klein-Asië en Griekeland met die evangelie* deurkruis. Sy sendingstrategie was om in elke belangrike sentrum die evangelie­vlam aan te steek, en die plaaslike Chris­tene moes dit dan verder uitdra. Reeds vroeg wou hy ook na Rome*, die hart van die Romeinse Ryk*, gaan. Teen sy oorspronk­like ideaal in het hy wel in die voorjaar van 59 in Rome aangekom, maar as gevangene. Na ’n tydperk van huisarres (Hand 28:30-31), is hy waarskynlik vrygelaat en het hy moontlik ook nog die evangelie in Spanje verkondig. Volgens tradisie sterf hy in die jaar 64 die marteldood onder keiser Nero*.

Paulus se literêre nalatenskap: Dertien van die Nuwe-Testamentiese* geskrifte staan op Paulus se naam. Geleerdes is eenstemmig dat minstens Romeine*, 1 en 2 Korintiërs*, Galasiërs*, Filippense*, 1 Tessa­lo­nisense* en Filemon* direk van Paulus self afkomstig is. Baie meen egter dat (van) die ander briewe deur leerlinge van Paulus geskryf kon gewees het. Volgens die breë ou­teurskapbeskouing van destyds kon hulle hierdie briewe met vrymoedigheid op Paulus se naam plaas omdat dit sy boodskap was wat hulle deurgegee het.

Paulus se boodskap in ’n neutedop: Alhoewel Paulus God beskou as die heilige Skeppergod wat die sonde* straf, skilder hy Hom bo alles as die God van liefde* wat almal wat die goeie nuus glo, uit genade vryspreek (Kyk by: Vryspraak; Geregtigheid van God) en met Hom versoen. So word Hy die Vader* van ’n uniek-nuwe huisgesin, be­staande uit alle gelowiges* – sy kerk*. Jesus Christus is by Paulus allereers die Gekrui­sigde wat in die skynbare swakheid en dwaasheid van selfopofferende liefde die magsdenke van die Jood* en die wysheid* van die Griek beskaam (1 Kor 1:18-25). Maar Hy is ook die Opgestane (1 Kor 15) in Wie God se nuwe wêreld reeds begin het (Rom 8:29). In gelowiges se verbondenheid aan hierdie gekruisigde en opgestane Christus het hulle self nuwe mense* geword (2 Kor 5:17; Rom 6:3-11). Jesus is egter ook die verhoogde Here* oor kerk en wêreld (Fil 2:9-11 ens), en alle gelowiges staan nou onvoorwaardelik in sy diens. As nuutgemaakte mense ervaar hulle die inwoning van die Gees* wat hulle lewe rig en heilig, en aan hulle sy gawes gee tot opbou van die gemeente*. Die Gees as gawe van die eindtyd* is vir hulle terselfdertyd die waarborg* dat God al sy beloftes* volkome waar sal maak. Daarom is hulle lewe gevul met hoop* en blydskap (Rom 5; Filippense). As mense wat God se liefde in Christus ervaar het, moet hulle nou ’n dankbaarheids­lewe voer waarvan die belangrikste kenmerk selfopofferende liefde teenoor God, medegelowiges en die naaste* moet wees. So is hulle onderweg na Christus se tweede koms (Kyk by: Wederkoms), en hunker hulle na die toekomsheerlikheid wanneer God alles in almal sal wees (1 Kor 15:28, 1933-Afrikaanse Vertaling).

Paulus se “tydgebonde” opdragte: Dit is belangrik om te onderskei tussen die blywend-geldige motivering agter ’n opdrag en die spesifieke, histories-bepaalde vorm waarin daardie motivering, volgens die omstandighede van destyds, ingeklee word. Wanneer Paulus by die Christenvroue van Korinte* aandring om ’n kopbedekking by gemeentebyeenkomste te dra, is sy motive­ring dat die Naam en die saak van die Here nie in gedrang moet kom nie. Dit is egter presies wat gebeur wanneer sommige Christenvroue die destydse sosiale konvensies van ordentlikheid ignoreer en die eredienste sonder ’n hoofbedekking bywoon. Sy opdrag impliseer dus dat Christene hulle telkens opnuut behoort af te vra wat in terme van die konvensies van hulle eie tyd en situasie as paslike kleredrag in die ere­diens* sal geld, dit wil sê as kleredrag wat tot eer van God sal wees.

Wat die posisie van vroue en slawe be­tref, wou Paulus duidelik nie die jong Christendom in ’n maatskaplike versetbeweging laat ontaard nie. Hy neem egter standpunte in waarvan die konsekwente deurvoering verreikende implikasies inhou. Volgens Gal 3:28 verloor alle sosiale verskille, ook dié tussen slaaf* en vryman, man en vrou, in Christus hulle belangrikheid. Paulus is uiters positief oor die baanbre­kende evangelie-arbeid wat Christenvroue in Rome verrig het (Rom 16). Volgens 1 Kor 11:5 het hy geen probleem daarmee dat Christenvroue in die gemeente profeteer, dit wil sê die wil van God aan die gemeente oordra nie. 1 Kor 14:34-35 is nie ’n geldige teenargument nie, aangesien hierdie woorde na alle waarskynlikheid nie deel van die oorspronklike Paulusteks was nie. Wanneer Paulus by Filemon* pleit om sy wegloopslaaf Onesimus* terug te neem, suggereer hy dat Onesimus voortaan vir hom méér as ’n slaaf behoort te wees, naamlik ’n “geliefde broer” in die Here (Filem 16). In hierdie woorde lê sosiale dinamiet. Die volle konsekwensies hiervan sou egter eers na baie eeue deurwerk.

 

Sidebar