PAUW, JACOBUS CORNELIS

PAUW, JACOBUS CORNELIS (1837–1918) is in Leiden, Nederland, gebore en voltooi sy teologiese studie in 1861 in Amsterdam met die oog op ’n sending*loopbaan in China*. Hy word egter deur dr W Robertson* as sendeling* vir Suid-Afrika ge­werf. Ná sy aankoms in 1861, werk Pauw op die sendingstasie Zoar en in die Zuurbraak-sendinggemeente. Hy was sedert 1879 in die Wagenmakersvallei-sendinggemeente (Wellington) werksaam. Dié gemeentes is deur Pauw op stoflike maar veral geestelike vlak opgebou. Benewens sy werk as sende­ling, was Pauw van 1879 tot 1913 dosent aan die Sendinginstituut* op Wellington waar sy praktiese ondervinding waardevol te pas gekom het in die opleiding van sendelinge.

Met sy preke, geskrifte en toesprake ty­dens sinodes, het Pauw ’n groot rol gespeel in die totstandkoming van ’n onafhanklike sendingkerk. Die NG Sendingkerk* is in 1891 gestig en Pauw het vier keer as mode­rator* van die sinode* gedien. Hy tree ook op as kampvegter teen drankmisbruik en beywer hom vir die onderwys van bruin kinders, asook die deeglike opleiding van onderwysers en sendelinge. Pauw was drie keer getroud en is die stamvader van die Pauw-familie in Suid-Afrika, wat sedertdien ’n belangrike bydrae op kerklike vlak ge­lewer het. (Kyk ook: Pauw, CM.)

Vir verdere lees: A Dreyer 1927. Kruis­gesante in Suid-Afrika: Jubileum gedenk­boek van die Sendinginstituut op Welling­ton. Kaapstad: Nasionale Pers.

Sidebar