PELAGIANISME

PELAGIANISME. Pelagius*, ’n vyfde-eeuse monnik, het die erfsonde* verwerp en in die plek daarvan geleer dat die mens uit eie krag salig kan word. Die mens word, aldus Pelagius, soos Adam* sonder sonde* gebore met ’n vrye wil en keuse. Hoewel die vrye wil ook deur die sonde aangetas is, kan die mens vír of téén die sonde kies. God weet vooraf wat die mens gaan kies. Daarvolgens word besluit wie verkies word en wie verlore gaan. Hiermee word twee aksente geplaas: God eerbiedig die vrye wilskeuse waarmee Hy die mens geskep het, en die mens behou sy verantwoordelik­heid.

Die semi-pelagiane handhaaf dieselfde idee, maar lê besondere klem op die gena­de* van God aan die mens om die regte keuse te maak. Sodoende word die gedagte van samewerking tussen die menslike vryheid en die genade van God ondersteun.

Hoewel Pelagius deur die eeue aanhan­gers gehad het, het onder andere die sinodes* van Milaan (416) en Karthago (418) sy leerstelling veroordeel.

Sidebar