PELAGIUS

PELAGIUS (circa 354–420/440) is waar­skynlik êrens in die Britse Eilande gebore, moontlik op die Isle of Man. Hy het later dié eiland se biskop* geword. Hy het ’n goeie opvoeding ontvang en kon Grieks* en Latyn vlot praat. Pelagius het die meeste van sy tyd as monnik* deurgebring en ’n asketiese* lewe gevoer. Later het hy na Rome* verhuis. Daar was hy ’n bekende fi­­- g­uur met sy streng asketiese lewe en sy oorredende toesprake en geskrifte. In sy vroeë loopbaan het Augustinus* met lof van hom gepraat. In Rome het Pelagius bekommerd geraak oor die lae morele stan­daarde van die gemeenskap. Hy het dit gewyt aan die teologie* van Goddelike ge­nade* wat deur Augustinus en andere ver­kondig is. Dit word vertel dat Pelagius omstreeks 405 die volgende stelling in Augustinus se Belydenisse sou gehoor het: “Gee my wat U vra, en vra wat U wil.” Dit het Pelagius ontstel, omdat Augustinus na sy mening iets verkondig het wat nie met die tradisionele Christelike kerkleer* van genade en die vrye wil ooreenstem nie. Dié soort uitlating maak van die mens ’n blote outomaat, het Pelagius gesê. Pelagius het na Kartago gegaan waar hy Augustinus persoonlik ontmoet het. Tog het hy steeds ernstig met Augustinus verskil en talle aanhangers gehad. Veral in Kartago het die Pelagianisme* vinnig versprei. Vier van Augustinus se geskrifte handel spesifiek oor hierdie saak. Hy het daarin verduidelik dat, as die Pelagiane die erfsonde* verwerp en leer dat ’n mens sonder God se genade en uit eie krag al God se bevele kan uitvoer, die evangelie* in sy hart aangetas word. Kort daarna het Pelagius na Palestina* vertrek, maar ook daar is hy deur Hieronimus* veroordeel. Sy siening is wyd deur die kerk verwerp. Die Konsilie (kerkvergadering) van Kartago (418) het Pelagius se standpunt in nege punte afge­wys.

Sidebar