PELSER, JOHANNES JACOBUS (JANNIE)

PELSER, JOHANNES JACOBUS (JANNIE) (1954–) het in 1985 predikant* van die NG Kerk*-gemeente Rant-en-Dal in Krugersdorp geword waaraan hy in die jare daarna afwisselend as voltydse of deeltydse predi­kant verbonde was. Hy trek aanvanklik aan­dag met sy musiek­bediening as een van die eerste geslag mense wat ’n ruimer vorm van lofprysing* en aanbidding deur musiek in die NG Kerk indra. Pelser word aangegryp deur goddelike gene­sing* by die kerk van die omstrede profeet TB Joshua* in Lagos, Nigerië, en hy neem verskeie groepe daar­heen. Met die draai van die millennium lei Pelser ’n veldtog om ’n miljoen mense hulle te laat verbind tot ’n gesamentlike geloofsbelydenis met die oog op die derde millennium. Hy speel ’n groot rol dat gospel-sanggroepe ook by kunstefeeste – soos die Klein-Karoo-Nasionale Kunste­fees – kan optree, en is ’n tyd lank  die aanbieder van jeuginsetsels oor Christen-Netwerk TV se programme.  Later lei hy die Jesus-projek wat kapsie maak teen die misbruik van God se Naam in flieks en oor TV, hy gaan praat tot in Hollywood om dit te probeer voorkom, roep Christene op tot getuienis daarteen, en wil gelowiges (onder meer deur ’n “mediavas”) opvoed om self duidelike keuses te maak. In 2006 beland Pelser en sy gemeente midde-in ’n pole­miek oor hulle voorneme om mense wat dit verlang, met ’n “bekeringsdoop” of “belydenisdoop” – te onderskei van die verbondsdoop wat steeds deur hulle erken word – te bedien en so te voorkom dat hulle die NG Kerk verlaat. Later word hy ook die samesteller van Toekomsvenster wat van tyd tot tyd as bylaag in Kerkbode verskyn.

Sidebar