PENTATEUG

PENTATEUG bestaan uit die eerste vyf boeke van die Ou Testament*, te wete Genesis*, Eksodus*, Levitikus*, Numeri* en Deuteronomium*. Die woord beteken letterlik “vyf boekrolle”. In die Joodse tradisie word hierna ook as die tora* (wet, lering) verwys. In sommige tradisies word dit ook die Vyf Boeke van Moses* genoem, hoewel algemeen aanvaar word dat Moses nie die outeur van die grootste gedeelte daarvan kon gewees het nie (Kyk by: Pentateug­bronne).

Die inhoud van die Pentateug: Die inhoud kan soos volg opgesom word:

  1. Gen 1–11: Die sg oergeskie­denis of voorgeskiedenis. Hierdie gedeeltes dra die oortuigings van die Bybelse* mense oor die begin van die wêreld en die mensdom oor. Dit is nié ’n optekening van presiese historiese gebeure of wetenskaplike feite nie (hoewel dit soms in sekere fundamentalistiese* kringe so verstaan word), maar eerder uitsprake waardeur aangedui word dat God by die begin van alles en van die mensdom betrokke was.
  2. Gen 12–50: Die verhale van die aartsvaders. Die verhale van Abraham*, Isak*, Jakob* en Josef* word hierin vertel.
  3. Eks 1–Deut 34: Die uittog* uit Egipte* en die deurtog deur die woestyn. Hierdie vier boeke word in geheel gewy aan verskillende verhale wat in Egipte* en die Sinai-woestyn afspeel. Die volgende hoogtepunte kom daarin voor: Eks 1–16: Bevryding uit Egipte. Eks 17–40 en Lev 1–27: Die wetge­wing in die woestyn by Sinai* (wat ook Horeb* genoem word in sommige gedeel­tes). Num 1–36: Die woestyntog vanaf Sinai tot op die wal van die Jordaan* oorkant Jerigo*. Deut 1–34: Afskeidstoesprake van Moses (en sy dood) kort vóór die intog.

Waar eindig die Pentateug? Daar is onder Bybel*uitleggers verskil van mening oor waar die Pentateug eindig. Sommige meen dat die verhaal nie aan die einde van Deuteronomium sou eindig nie. Die uittog en woestyntog loop op tot die intog in die beloofde land. Hierdie verhaal oor die intog en die inname van die land word eers in die boek Josua* vertel. Daarom wil hierdie uitleggers eerder van die Heksa­teug praat (“ses boekrolle”) om sodoende die intog- en innameverhale in te sluit.

Ander meen weer dat die boek Deute­ronomium nie oorspronklik deel van die Pentateug was nie, maar dat dit die inlei­ding is tot wat algemeen bekend staan as die Deuteronomistiese geskiedwerk* (Josua*, Rigters*, die Samuel*- en Konings*-boeke). Dan sou ’n mens van Genesis tot Numeri eerder as die Tetrateug (“vier boekrolle”) moes praat.

Nog ander meen dat die Pentateug ’n later afgrensing binne ’n groter geheel is wat deur die Joodse* tradisie bewerkstellig is. Die groter geheel sou bestaan het uit die vyf boeke, asook die vier boeke wat deel vorm van die Deuteronomistiese geskied­werk* (die boeke Samuel* en Konings* word elkeen as een getel). Sulke uitleggers verkies dan om van die Henneateug (dus “nege boekrolle”) te praat.

Hoewel daar steeds nie eenstemmigheid onder uitleggers is oor die voorgeskiedenis van die Pentateug nie, is almal eenstemmig dat die Pentateug as eenheid ’n groot rol in verskillende godsdienstradisies gespeel het en steeds speel. Die Samaritaanse* gemeenskap het bv slegs die Pentateug as heilige skrif aanvaar. Die Pentateug vorm die eerste groot afdeling in die Hebreeuse* Bybel waarop die Joodse* geloofstradisie tot vandag bou. Vir hulle het die Pentateug besondere waarde, en dit word as basis gebruik vir alle lering in die geloof*.

Samevatting: Vir die Christelike kerk* het die Pentateug eweneens groot waarde. Aangesien dit alreeds in ongeveer 400 vC afgerond was en as gesaghebbend aanvaar is, het dit, saam met die Profete-boeke, ook ’n groot rol gespeel as die Skrif* van die Nuwe-Testamentiese* kerk. Daar kan dus aanvaar word dat Jesus* en die skrywers van die Nuwe-Testament ook die Pentateug geken het min of meer in die vorm soos ons dit vandag ken (hoewel dit waarskynlik in die Griekse* vertaling, die Septuaginta*, gelees en aangehaal is).

Vir verdere lees: GJ Wenham 2003. Exploring the Old Testament: The Penta­teuch, deel 1. Londen: SPCK.

Sidebar