PENTATEUGBRONNE

PENTATEUGBRONNE. Sedert die vroeë Joodse* tradisies, soos bv reeds duidelik is uit die na-ballingskapse litera­tuur in die Ou Testament* wat gereeld na die “wet van Moses” verwys, is Moses* as die outeur van die hele Pentateug* beskou. Hierdie tradisies sluit aan by die feit dat Moses in ’n sekere sin die hoofkarakter van (veral) die boeke Eksodus* tot Deuterono­mium* is, en soveel kere in die verhale aan die woord is.

Met die opkoms van die wetenskaplike metodes van Bybel*uitleg, het daar egter ’n wending gekom. Uitleggers het vanaf die 18de eeu daarop begin wys dat Moses onmoontlik die outeur van die grootste ge­deelte van die Pentateug kon gewees het. Enkele van die argumente wat gebruik is, is die volgende: 1. In die Pentateug word mees­tal van Moses in die derde persoon gepraat. 2. Deut 34 vertel van Moses se dood (wat onmoontlik deur homself geskryf kon gewees het). 3. Die inhoud van die Pentateug weerspieël ’n bekendheid met die beloofde land (wat vir Moses onmoontlik sou gewees het indien hy vóór die intog op die berg Nebo* gesterf het). 4. Daar word in die Pentateug na konings verwys (bv in Gen 36:31-39) wat baie later as Moses se tyd regeer het. 5. Daar is ’n paar opmerkings in die Pentateug wat vermeld dat die Kanaäniete toe nog in die land was (bv Gen 12:6 en 13:7). Dit weerspieël ’n tydperk toe hierdie volk nie meer dominant was nie (lank ná die tyd van Moses).

Bronnehipoteses: Op grond van hierdie argumente het uitleggers verdere verkla­rings vir die outeurskap van die Pentateug probeer soek. Uitleggers in die 18de eeu het opgemerk dat daar verskillende Godsname in die Hebreeuse teks van die Pentateug gebruik word (bv “Jahwe*” wat normaalweg met “Here” vertaal word, en “Elohîm*” wat normaalweg met “God” vertaal word). Die voorkoms van hierdie name het hulle daartoe gebring om te sê dat daar twee bronne, naamlik die sg J-bron (na aanleiding van die naam Jahwe) en E-bron (na aanleiding van die naam Elohîm), gebruik is in die samestelling van die Pentateug. Hierdie teorie is later (veral in die 19de eeu deur Julius Wellhausen*, ’n Duitse eksegeet) uitgebrei met die toevoe­ging van twee ander bronne, naamlik die sg D-bron (Deuteronomistiese bron) en P-bron (Priesterlike bron). Die D-bron is veral in die boek Deuteronomium geïdentifiseer, terwyl die P-materiaal in verskillende dele van die Pentateug voorkom. Die meeste kultiese voorskrifte en wetge­wing van die Pentateug is met die P-bron geassosieer, hoewel sommige verhalende gedeeltes ook daarby ingesluit is. In die vroeë bronnehipoteses is die J- en E-bronne in die voor-ballingskapse (Kyk by: Ballingskap) tyd van Israel* se geskiedenis gedateer, terwyl die D-bron en P-bron in die ballingskapse en na-ballingskapse periodes sou ontstaan het. Die Pentateug is dan uit hierdie vier bronne saamgestel deur redakteurs wat in die laat na-ballingskapse tydperk gewerk het.

Die tradisionele siening oor Pentateug­bronne soos hierbo beskryf, word egter nie meer in die moderne Bybelwetenskap gehandhaaf nie. Daar is ’n redelike groot eenstemmigheid dat daar nie ’n aparte E-bron bestaan het nie, maar dat hierdie materiaal eerder ’n later oorwerking van die J-bron verteenwoordig. Daar is ook geen eenstemmigheid of die J-bron werklik sou bestaan het nie, en wanneer dit tot stand sou gekom het nie. Alternatiewe teorieë werk eerder met die siening dat daar nie aaneenlopende en onafhanklike bronne was wat ten grondslag van die Pentateug gelê het nie, maar dat daar eerder verskillende groeifases in die lite­ratuur was wat uit verskillende perspektiewe (hetsy Jahwisties, Deuteronomisties of Priesterlik) aangepak is. In verskillende stadiums het redakteurs meegehelp om ’n geheel te vorm uit die verskillende lae teksmateriaal wat bygedra het tot die groei van die Pentateug.

Kenmerke van die verskillende bronne: Verskillende dele van die Pentateug vertoon kenmerkende taalgebruik, uitdrukkings, waardes en teologiese oortuigings. Slegs enkele voorbeelde word hier ter illustrasie genoem: 1. Die J- en E-materiaal praat dikwels antropomorfies* oor God, dit beteken dat God in eg menslike voorstellings beskryf word: Gen 3:8 vertel, bv, dat God in die tuin van Eden* wandel; Gen 7:16 dui aan dat God die ark*1 agter Noag* en sy familie toegesluit het; in Gen 32 word vertel dat God met Jakob* by die Jabbok* geworstel het, en op verskillende plekke word vertel dat Moses God op Sinai*2/ Horeb* gesien het. 2. Die D-materiaal lê dikwels klem op die sentralisering van die godsdiensbeoefening in Sion*-Jerusalem*. Die uitdrukking wat dikwels gebruik word om daarna te verwys, is “die plek waar Jahwe* sy Naam laat woon”. Verder be­klemtoon die D-materiaal die eenheid van die God van Israel (vgl Deut 6:4-9, die sg Sjema wat tot vandag toe in die Joodse godsdiens ’n sentrale belydenis vorm). Hy alleen moet gedien word, en geen ander vreemde gode nie. 3. Die P-materiaal gee baie aandag aan kultiese besonderhede, bv die bring van verskillende offers, die viering van die Joodse feeste* en die pligte van priesters*. P is ook baie lief vir presiese getalle-aandui­dings (soos bv in gedeeltes van die vloedverhaal in Gen 6–9 voorkom) en vaste formules en strukture (soos in Gen 1 se skep­pingsverhaal voorkom).

Samevatting: Hoewel die presiese aard van die voorstadiums van die Pentateug onduidelik is, is daar ’n aantal belangrike insigte uit hierdie navorsing wat in die uitleg van die Pentateug in gedagte gehou moet word: 1. Dit maak ons bewus daarvan dat alles in die Pentateug nie oor dieselfde kam geskeer kan word nie. Verskillende perspektiewe op God en die lewe van God se volk word vervleg aangebied. Deur oplettend te wees vir die tipiese taalgebruik en teologiese voorstellings van die verskillende materiaal, kan die “binne-gesprekke” wat in die Pentateug vervat is, aangehoor word. 2. Dit help ons om verklarings te vind vir inhoude in die Pentateug wat oënskynlik teenstrydighede bevat. Ons raak bewus daarvan dat die materiaal nie alles op dieselfde tyd tot stand gekom het nie, en daarom ook op eiesoortige maniere oor God nadink. 3. Ons raak ook daarvan bewus dat daar ’n eenheid te midde van die verskillende dele te bespeur is. Die re­dak­teurs wat die Pentateug gevorm en afgerond het, het met groot sukses daarin geslaag om ’n eenheidsverhaal te skep. Die eenheid en die verskeidenheid hef mekaar nie op nie. Daarom moet aan beide hierdie aspekte in die uitleg aandag gegee word.

 

Sidebar