PERPETUA VIVIA

PERPETUA VIVIA (?–circa 203) het in die tyd van die wrede Romeinse keiser* Septimus Severus geleef en uiteindelik onder sy hand die martelaardood gesterf. Perpetua, ’n aantreklike vrou van Kartago, het ’n toegewyde ma en twee gelowige broers gehad, maar haar pa was ’n heiden*. Vanweë Perpetua se eie toewyding aan die Christelike geloof* het sy, nadat die keiser met sy vervolgings begin het, in ’n kerker be­land. Haar lot is verswaar omdat haar baba van haar af weggeneem is. Verder het haar pa haar dikwels in die gevangenis kom besoek en by haar aangedring om haar geloof ter wille van haar lewe af te sweer. Uiteindelik is sy ter dood veroordeel en op die keiser se verjaarsdag sou sy saam met die ander veroordeelde Christene in ’n arena met wilde diere gegooi word. Sy het van die kos wat sy op haar laaste lewensdag ontvang het, oorgehou, en sou dit gebruik het om nog vir ’n laaste keer die nagmaal* te vier. Een van haar lotgenote in die ker­ker, Saturus, het almal uit die Woord* getroos en weldra het die kerker met lofgesange weerklink. Die blymoedigheid van die veroordeelde Christene het die bewaarder, Prudens, so aangegryp dat hy daar tot geloof gekom het. Die volgende dag was die arena in Kartago gevul met mense wat die dood van die Christene wou kom aanskou. Nadat die mans deur wilde luiperds verskeur is, het die vroue soos Vivia Perpetua en Felicitas hand aan hand die arena binnegestap. Aanvanklik slaag ’n verwoede bul en ’n jong swaardvegter nie daarin om Perpetua dood te maak nie, maar dan wys sy die jongman waar om haar te tref en hy wond haar dodelik.

Perpetua het haar gewaarwordings en die gebeurtenisse in die kerker self op skrif gestel in Die martelaarskap van Perpetua en Felicitas, en haar geskrif is later deur iemand anders voltooi Dit werp interessante lig op die vroeë Afrika-Christendom in Kartago.

Sidebar