PERS/MEDIA EN GODSDIENS

PERS/MEDIA EN GODSDIENS staan dikwels (maar nie noodwendig nie) in ’n spanningsverhouding. Die belangrikste funksie van die pers/media is tradisioneel om aktuele inligting (nuus) op so ’n manier bekend te maak dat lesers/gebruikers dit gereeld sal wil koop. Dit moet dus interessant en relevant wees. Daarom word dikwels klem gelê op “slegte nuus”: die ongewone en verkeerde, al erken die joernaliste self nie noodwendig dié optrede en verskynsels as “sonde” in ’n Bybelse sin nie. So kom die swakhede van kerklike ampsdraers*, die spanning binne kerke en die uitsluitende aansprake van die Christelike geloof dikwels op voorblaaie tereg.

Hierteenoor staan die Christelike gods­diens (soos verteenwoordig deur die kerk*, Christelike organisasies en indiwiduele gelowiges) wat erns maak met die werklikheid van sonde* (die “gebroke werklikheid”), maar wat die gedetailleerde be­kendmaking daarvan in die openbare pers/media bevraagteken en selfs afkeur. Die vryheid om “slegte nuus” te publiseer, moet na hulle mening deur Bybel*gefundeerde verantwoordelikheid getemper word. Trouens, daar moet ook ’n gesonde fokus op die goeie wees en geen verlustiging in die kwa­de nie.

So kom ’n pers/media wat wins en gewaande “objektiwiteit” as enigste meesters het, in botsing met ’n godsdiens* wat hom aan Bybelse norme wil hou en God se eer soek. Dit plaas gelowige lesers in ’n dilemma: Hoe versoen ek my godsdienstige be­skouings (in ’n omvattende sin) met lees- en kykstof wat geloof*, godsdiens, die kerk en ampsdraers hoogstens as nuustemas beskou waarop dikwels ’n negatiewe lig geskyn kan word?

Suid-Afrika het enkele kerkkoerante en Christelike tydskrifte waarin gestreef word na ’n joernalistiek binne die raamwerk van Bybelse norme en waarin ’n blik op die werklikheid gegee word wat gefundeer is in ’n Bybelse lewens- en wêreldbeskouing. Tog is daar geen tradisie (soos in Nederland) van dagblaaie wat openlik die vals teenstelling tussen geloof en lewe probeer deurbreek nie. Die media, waaronder die pers, staan immers nie as sodanig téénoor godsdiens nie.

Deur die jare het Christene as redakteurs en redaksielede wel Bybelse perspektiewe en insigte oor kerk en samelewing in ’n beroepsomgewing ingedra wat bekend is vir sinisme en louheid jeens godsdienstige waardes. Verder het die godsdienstige oortuigings van lesers ’n temperende invloed op redaksies se nuuskeuses en -aanbieding. Al stem redakteurs nie altyd saam nie, is hulle besorg oor sirkulasiesyfers en winsgewindheid.

Tog bestaan die indruk dat die invloed van die kerk in die pers/media aan die taan is. Dit hang ook saam met die rol wat die kerk in die verdediging en afbreek van apartheid* gespeel het. Vroeër is die kerk wel as belang­rike agent van verandering beskou en wye nuusdekking is gegee aan die groot kerke, veral die NG Kerk*, in die Afrikaanse pers. Later word die kerk as minder belang­rik geag, hoewel godsdiens in al sy postmoderne* manifestasies steeds ’n plek op die nuusagenda behou.

Die opkoms van die sg sosiale media met hulle “vryheid van spraak”, en daarmee saam anonieme beledigings, skinderstories en riemtelegramme wat dikwels daarin aan die orde van die dag is, is ’n hedendaagse fenomeen wat die kerk* en geloof meermale uitdaag.

Dit alles maak ruimte oop vir méér publika­sies en webwerwe waarin Christelike waardes en nuus tereg kan kom. Tog vervang dit nie die noodsaak aan ’n openbare pers/media wat gelowiges met omvangryke nuus, verhelderende perspektiewe en kritiese standpunte toerus om in ’n gekompliseerde wêreld ’n godsdiens-wat-grondvat te beoefen nie.

Sidebar