PERSONALISME

PERSONALISME. Hoewel denke oor die menslike persoon van die vroegste filosofie* af aangetoon kan word, word die term “personalisme” hoofsaaklik gebruik vir ’n denkrigting van die eerste helfte van die 20ste eeu. Dit is denke oor die aard en waarde van die mens in sy/haar intieme besondersheid.

Die personalisme ontwikkel as reaksie op twee verskynsels. Eerstens op ’n verskeidenheid teorieë wat die mens reduseer tot natuurlike of sosiale kragte of tot ’n bo-in­di­widuele menslike gees (Idealisme*). Twee­dens reageer personalisme op die mo­derne wêreld waarin die indiwidu se lewe aan meganisasie deur tegniek onderwerp word en toenemend deur reglementering en kontrole ingewerk word in ’n kollektiewe eenvormigheid.

Personalisme lê klem op die vryheid, selfbewussyn en kontinue identiteit van die mens as etiese* wese en eis ’n sensitiwiteit vir die konkrete ervarings van die indiwidu in sy/haar spesifieke konteks. Dit is gerig teen die anonimiteit van die groot sosiale orde, maar ook teen die onbetrokke bur­gerlike indiwidualisme. Die persoon word dus in samehang met sy/haar interpersoonlike verhoudings beskou. Persoonskap ontsluit ’n aspek van epistemologie* (kennisleer) waartoe objektiewe ondersoek nie toegang het nie en gee aan lg sy betekenis. Dikwels bevat personalisme denke oor God as die hoogste Persoon.

Teen die 1960’s verloor die personalisme steun met die opkoms van nuwer positiwistiese en strukturalistiese filosofieë.

 

 

Sidebar