PERSOON

PERSOON wys op daardie identiteit wat die mens se binneste tot ’n eenheid saambind en ’n deurlopende konstantheid be­hou deur die veranderings wat in die leeftydsfases plaasvind. “Persoon” is ’n vloei­bare term waarvan die presiese betekenis sal wissel na gelang van die deskundige wat dit gebruik en die hoek waaruit dit bekyk word. Die terme self, ek, indiwidu word in sekere handleidings afwisselend met die term persoon gebruik. Die Latynse woord persona word dikwels aangehaal as die grondterm vir persoon. Persona dui op die masker wat die akteur in ’n drama dra. In die klassieke dramas het een akteur dikwels verskillende rolle gespeel. Maskers is gebruik om die sigbare verskille tussen die karakters aan te dui. Persona dui dus eerder op persoonlikheid, die uitingsvorm van die persoon of die rol wat die persoon in die lewe speel.

Huidige debatte oor “persoon” verwys veral na dít wat die mens uniek maak. Die uniekheid van die persoon word veral in selfbewussyn gevind. ’n Persoon is dus ’n mens wat wéét dat hy of sy wéét. Die persoon se ontstaan en ontwikkeling is ’n psigosomatiese proses en die liggaam en geestelike aspekte staan in ’n wederkerige verhouding tot mekaar. Uiteindelik is die mens ’n verantwoordelike persoon. Nóg die verlede nóg omstandighede bepaal die volledige persoon uiteindelik, want hy of sy is vry om eie antwoorde te gee en eie keuses te maak.

Die debat oor die persoon het besondere betekenis vir die Christelike geloof*. Chris­tene bely God as die Drie-enige*, as een Wese in drie Persone. Uit Christelike perspektief hou besinning oor die menslike persoon onvermydelik ook besinning oor sy/haar geskapenheid na die beeld* van dié God in.

Sidebar