PESJITTA

PESJITTA verwys na die Siriese vertaling van die Ou Testament*. Pesjat in Siries beteken “eenvoudig”, dus is dit “die eenvoudige vertaling”. Siries* was die Aramese* dialek van Edessa (moderne Urfa in Turkye) waarin die Christendom* versprei het na Mesopotamië* en die Iranse plato. Dit is uit ’n Hebreeuse* teks vertaal en het dus met beide die Christendom én die Judaïsme* bepaalde bande. Hierdie dubbelslagtigheid word in alle prominente teorieë oor die ontstaan van die Pesjitta gevind. Aan die een kant word Edessa as oord van oorsprong beskou. Aan die ander kant is daar die legende rondom koning Izates van Adiabene wat tydens die Romeinse keiser Claudius se bewind (41–54 nC) hom tot die Judaïsme bekeer het en wat ’n Bybel* in Siries nodig gehad het.

Die Pesjitta vertoon die invloed van die Septuaginta* (LXX), die Targums* en van Joodse* eksegetiese (Kyk by: Eksegese) tradisies. Daar is byvoorbeeld ooreenkomste tussen die LXX en Pesjitta in die klassieke Messiaanse (Kyk by: Messias) gedeelte Gen 49:10. Dit is wel so dat die Pesjitta in hierdie verband ook met die Targums ooreenstem. Soos die Targums, praat die Pesjitta ook van die berg Karfu in Gen 8:4 in plaas van die berg Ararat*. Die fundamentele Joodsheid van Pesjitta-Genesis is duidelik uit die vertaling van Gen 2:8. Die Masoretiese* teks lees “… toe het die Here God ’n tuin geplant in Eden, in die ooste …” Die Pesjitta vertaal egter “in die ooste” met “in die begin”. Dit stem ooreen met be­kende Rabbynse* tradisies waarvolgens die tuin van Eden in die begin geskep is, vóór die skepping van die wêreld. Hierdie interpretasie kom ook voor by Targums Pseudo-Jonatan en Neofiti.

Die Pesjitta het waarskynlik ’n Joodse ontstaan, maar is deur die Christelike kerk* gebruik. Dit funksioneer vandag steeds in die Siriese kerk.

Sidebar