PETERSEN, SYDNEY VERNON

PETERSEN, SYDNEY VERNON (1914–1987) gee aan die lewe van die bruinmens met gevoelens van verset én aanvaarding gestalte in die Afrikaanse poësie. Met die beste verse in Die enkeling (1944) en Die stil kind en ander verse (1948) maak hy indruk deur eenvoud, wrangheid en direktheid, terwyl die veelvuldige gebruik van die dialoog aan sommige gedigte iets sterk dramaties gee. ’n Gedig wat in hierdie verband opval, is “Bede”, die kla-gebed oor “die vloekstraf van ’n donker huid” met sy Bybelse* beelde. In die 1960’s en 1980’s publiseer Petersen weer digbundels: Die kinders van Kain (1960), Suider­kruis (1965) en Nag is verby (1980). Die digter verset hom skerp teen rassediskriminasie en gee in goeie verse ’n uitbeelding van verskillende soorte stadsmense. Latere werk, ook in Engels, is minder bevredigend. Petersen het ook ’n roman geskryf, As die son ondergaan (1945), oor ’n bruinman wat sy grootword-omgewing verlaat en na Kaapstad toe gaan, waar hy toegee aan allerlei verleidings, om op die ou end weer na die “veilige” platteland terug te keer.

Vir verdere lees: JC Kannemeyer 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Kaap­stad: Human en Rousseau.

Sidebar