PIENAAR, EDUARD CHRISTIAAN

PIENAAR, EDUARD CHRISTIAAN (1882–1949) is op Potchefstroom gebore en sluit as sewentienjarige seun gedurende die Anglo-Boereoorlog* (1899–1902) by die magte van genl Piet Cronjé aan. Met Cronjé se oorgawe in Februarie 1900 by Paarde­berg, is Pienaar na St Helena gestuur.

Ná die oorlog behaal Pienaar sy matriek in die Paarl en verwerf BA op Stellenbosch. Hy hou skool in Sutherland en Fransch­hoek. Hy word in 1911 lektor op Stellen­bosch.

Hy vertrek met behulp van ’n studie­beurs in 1914 na Nederland waar hy in 1919 promoveer met ’n proefskrif oor die taal en poësie van die Tweede Afrikaanse Taalbe­we­ging. Ná sy bevordering tot professor in 1930 op Stellenbosch is hy onder meer een van die stigters van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK), lid van die Voortrekkermonument-kommissie, voor­sitter van die Hugenotemonument-komitee, lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde. Met die “Digters van Dertig”, veral NP van Wyk Louw*, het Pienaar ’n paar keer ernstig gebots – die nuwe geslag digters was van mening dat hy nie hulle werk na waarde geskat het nie. As letterkundige adviseur het Pienaar ’n prominente rol gespeel in die samestelling van die eerste Afrikaanse Psalm- en Ge­sangeboek in 1944. In sy boek, Die ontstaan van ons Afrikaanse Psalm- en Gesangeboek (1944. Kaapstad: Nasionale Pers), skryf Pienaar hieroor. Sy betrokkenheid het van die 1944-bundel literêr gesproke beslis ’n meer aanvaarbare gesangeboek gemaak as wat die geval sonder hom sou gewees het.

 

Sidebar