PIERNEEF, JACOB HENDRIK

PIERNEEF, JACOB HENDRIK (1886–1957), Suid-Afrika se bekendste landskapskilder, het hom ook in die etskuns en hout- en linosneekuns onderskei ná sy opleiding aan die Rotterdamsche Akade­mie van Beeldende Kunsten. Hy het aanvanklik verskeie beroepe gevolg – van ta­bak­handelaar tot bibliotekaris. Hy was van 1920 af lektor by die normaal-onderwyskolleges van Heidelberg en Pretoria, maar wy hom drie jaar later voltyds aan sy kunsloopbaan.

Balans tussen formele abstraksie en realisme, die spel van tekenvlak, grafies gesui­werde tekenlyn en die essensie van die natuurlike, vind uitdrukking in Pierneef se kenmerkende rots-en-wolkformasies, asook die kragtige teenwoordigheid van die Trans­vaalse Bosveld-bome. Hierdie drie elemente is tot ’n suksesvolle sintese gevoer wat ’n hoogtepunt bereik in sy Komposisie in blou – allerweë beskou as sy beste werk. Hemel en aarde het hier ineen gepas soos in ’n magistrale legkaart: “God se wolke” – sy eie beskrywing – asook rots en boom verbeeld ’n verbondenheid tussen God, mens en wêreld, soos Pierneef dit in sy Chris­telike lewens- en wêreldbeskouing beleef het. Pierneef was in 1935 die eerste kunstenaar wat ’n medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang het, en in 1957 is erelidmaat­skap van die Akademie aan hom toegeken. Hy het eredoktorsgrade van die universitei­te van Natal (1951) en Pretoria (1957) ontvang.

Vir verdere lees: PG Nel (red) 1990. JH Pierneef: Sy lewe en sy werk. Johannesburg: Perskor.

Sidebar