PIETER DIE GROTE (TSAAR)

PIETER DIE GROTE (TSAAR) (1672–1725), veertiende kind van Aleksei I, word op tienjarige ouderdom saam met sy enigste oorlewende broer Ivan (’n invalide) mede-tsaar van Rusland. Sy ouer half-suster, Sofia, word regentes. Toe Sofia in 1689 uitgeskakel is, word sy ma, Natalija, regentes. Ná haar dood in 1694 word Pieter nogmaals medeheerser, maar met Ivan se dood in 1696 word hy op sy eie gekroon as Russiese tsaar. Pieter se doelwit was om Rusland ’n sterk Europese moondheid te maak. Hy skep dus ’n staande leër en vloot en werk selfs incognito in Amsterdam as vakleerling om met die Nederlandse skeeps­boumetodes vertroud te raak. Hy voer talle hervormings in, onderwerp die kerk* aan die staat* en plaas die bestuur van die kerk onder ’n “sinode” van tien lede. Hy herower groot dele van die Oossee-kus van Swede en vestig sy nuwe hoofstad, St Pietersburg, in 1703 aan die delta van die Neva. Ná die vrede met Swede in 1721, ver­klaar Pieter homself tot keiser van die Russiese Ryk. Sy pogings om die Kaspiese See van die Turke te verower, het egter misluk. Pieter is ná sy dood deur sy tweede vrou, Katarina* die Grote, opgevolg.

 

Sidebar