PIËTISME

PIËTISME verwys positief na ’n geloof* wat klem plaas op persoonlike toewyding aan God en ’n vroom lewenswyse. Histories word piëtisme as teologiese en geestelike beweging in die Lutherse Kerk* herlei na die werk van Philipp Jakob Spener* (gebore 1635). Hy wou die koue, intellektuele en dogmatiese godsdiens van die Lutherse Ortodoksie vervang met ’n warm, persoonlike toewyding. Hy skryf sy Pia Desideria in 1675. Hierin stel hy voor dat die kerk hervorm word deur huisgroepe waar Bybel*­studie gedoen word; ’n herstel van die amp* van die gelowige; prediking* met klem op persoonlike heil*; en teologiese opleiding wat spesifiek aan persoonlike toewyding aan­dag gee.

Piëtisme het wyd inslag gevind in Europa sowel as in Engeland waar John Wesley* geïnspireer is om die Metodiste-vernuwingsbeweging (Kyk by: Metodisme) te begin. Piëtisme het Suid-Afrika bereik veral via die Skotse* le­raars in die 19de eeu, die beweging tot Pinksterbidure*, en het later ’n positiewe invloed op jongmense uitgeoefen in die bekende CSV*-beweging.

Die negatiewe konnotasie aan piëtisme het ontstaan vanweë kritiek op die bewe­ging uit sommige hoofstroom-kerke en die teologie*. Negatief verwys dit na Christene wat oormatige klem op vroomheid en persoonlike sieleheil plaas, en nie oop is vir kritiese vraagstelling van die Bybel* nie. Piëtiste het egter in die geskiedenis daarin geslaag om persoonlike geloof en sosiale aksie (afskaf­fing van slawerny* en tronkhervorming) te verbind en sodoende ’n positiewe bydrae tot die samelewing te maak.

Sidebar