PILATUS

PILATUS was die vyfde Romeinse goe­werneur wat oor die Romeinse provinsie (Kyk by: Romeinse Ryk) Judea* (Judea, Sama­ria* en Idumea) regeer het (26–36 nC). Hy is ’n Romeinse ridder met die ampsbenaming “prefek” (Latyn: praefectus), hoewel “prokurator” later gebruik is. Pilatus word in Hand 3:13; 4:27; 13:28; en 1 Tim 6:13 genoem. Daar is min verwysings na hom in buite-Bybelse bronne. Hy word in verband met Jesus* se dood genoem (Tacitus) en deur Filo en Flavius Josefus* in verband met sy onsensitiwiteit teenoor die Jode se gods­dienstige gebruike. Die militêre vaandels met die keiser* se afbeelding daarop was vir die Jode* ’n vorm van afgodery. Tog laat Pilatus sy soldate Jerusalem* daarmee binnekom, asook ’n ander keer met goue skilde met sy eie en die keiser se name daarop. Hy vat ook tempelskatte* om ’n waterleiding te bou. Hierdie insidente lei tot opstande teen hom wat hy bloedig onderdruk (vgl ook Luk 13:1). Die manier waarop hy ’n groep Samaritane op Gerisim* laat doodmaak en vang, lei tot sy herroeping na Rome*. Die dreigement in Joh 19:2 weerspieël sy eie onseker posisie teen die einde van sy dienstyd.

Pilatus behartig Jesus se politieke verhoor, en Matt 27:19 verwys na sy vrou se rol. In sommige legendes word sy Prokla of Procula genoem. Die blaam vir Jesus se dood is in die loop van die geskiedenis meer en meer van Pilatus na die Jode verskuif sodat volgens sommige apokriewe* geskrifte hy selfs as ’n Christelike martelaar sou gesterf het. Die Etiopiese kerk vereer hom en sy vrou met ’n feesdag.

 

Sidebar