PINKSTERBEWEGING (HISTORIES)

PINKSTERBEWEGING (HISTORIES). Die Pinksterbeweging het in die VSA ontstaan, aanvanklik in 1901 in Topeka, Kansas, onder leiding van die Metodiste*-predikant Parham, en daarna in 1906 in Azusastraat in Los Angeles, Kalifornië, in ’n ou Metodiste-kerkgebou, onder die leiding van ’n heiligheidsprediker, William Seymor. Dit is van die begin af gekenmerk deur die doop met die Gees* en spreek in tale*. Die wortels van die Pinksterbeweging lê in die Wesleyaanse heiligheidsbeweging in Ame­rika, en die Keswick-dieper lewe-beweging in Engeland. Hulle het egter hierdie wortels afgesny omdat hulle erg vervolg is en oortuig was dat hulle nie net ’n nuwe openba­ring van die werk van die Gees is nie, maar die finale openbaring met die oog op die wederkoms* van Christus*. Hulle het skerp teen die verlede gereageer. Woorde soos “tradisie” en “geleerdheid” het heeltemal ’n negatiewe betekenis gekry, en hulle het hulle net op die Bybel* en die Gees beroep. Hulle het ook geen kontak met ander kerke gehad nie, en hulleself as uniek beskou. Intussen het hulle egter ortodoks (“regsinnig”) in hulle basiese geloofsoortuigings gebly.

Teen die middel van die vorige eeu het hulle egter uit hierdie isolasie begin uitbeweeg. Die wêreldwye rol wat David du Plessis* hierin gespeel het, kan nie oorskat word nie. Hulle is bv tans die meerderheid in die groot Amerikaanse ver­eniging van evangeliese teoloë, die NAE (die National Association of Evangelicals), en beskik wêreldwyd oor akademiese teologiese opleiding.

Die Pinksterbeweging het onder arm en gemarginaliseerde mense opgebloei, nie net oorsee nie, maar ook in Suid-Afrika. Intussen het hulle egter onder die middel­klas en selfs die professionele groepe inbeweeg, en die groot Pinksterkerke word vandag onder die historiese kerke of hoofstroomkerke ingedeel.

Sidebar