PINKSTERBIDURE

PINKSTERBIDURE, wat tradisioneel oor die tien dae vanaf Hemelvaart* tot Pinkstersondag strek, het ’n lang geskiedenis, en is eiendomlik aan die NG Kerk*-familie in Suid-Afrika. Dit het in 1860 ontstaan tydens die herlewing wat in die Kaapse NG Kerkfamilie* plaasgevind het, en die bedoeling was dat hierdie bidure* elke jaar sou plaasvind, en ’n tyd van verootmoediging en voorbidding sou wees – in die besonder ook met die oog op die hernude werk van die Heilige Gees*. Die gedagte dat die Vroeë Kerk* op die koms van die Gees gewag het (Hand 1:4), sou hier die agtergrond vorm. Met die loop van tyd het verskillende spiritualiteite* hulle uitdrukking in dié bidure gevind. Terwyl die temas aanvanklik uitsluitlik oor die Per­soon en werk van die Gees gehandel het, en die klem op persoonlike toewyding en ’n sending*ywer geval het, het ander Bybelse* temas later aan die orde gekom, en ’n gro­ter sensitiwiteit vir sosiaal-maatskaplike probleme. Normaalweg bestaan die bidure uit ’n kort oordenking of preek (na aanlei­ding van amptelik voorgestelde tekste en temas), en geleentheid vir gemeentelike gebed. Die bywoning van hierdie geleent­hede, ná ’n hoogtepunt omstreeks die middeljare van die vorige eeu, het mettertyd afgeneem. Daar is egter gemeentes waar dit nog ’n groot tyd in die kerklike jaar is en waar goeie bywoning van hierdie bidure die reël is. (Kyk ook: GWA van der Lingen.)

Sidebar