PISIDIË

PISIDIË was ’n bergagtige streek in die suide van die Romeinse provinsie (Kyk by: Romeinse Ryk) Galasië*, Klein-Asië*, begrens deur Frigië* in die noorde, Likaonië in die ooste, Pamfilië* in die suide en Lisië in die weste. Pisidië word twee keer in Handelinge* genoem (13:14; 14:24). Paulus* reis hierdeur tydens sy eerste sen­ding*reis. Van Perge* naby die kus was dit ’n steil klim van ongeveer 900 m en ten minste 130 km na die binnelandse plato, wat omtrent ses dae sou duur.

Antiogië* was die belangrikste stad van die streek, hoewel dit streng gesproke in Frigië geleë was. Daarom beteken “Antiogië die Pisidiese” (Hand 13:14, letterlik vertaal) moontlik: “Antiogië (van Frigië op pad na) Pisidië”. Weens Pisidië se nabyheid as deurgangsroete na die see, was Antiogië waar­skynlik van vroeg af verbind met Pisidië.

Pisidië was nie net ruwe terrein nie, maar ook bekend vir sy ruwe inheemse inwoners. Nie die Grieke óf Romeine kon hulle behoorlik onderwerp nie. Die streek was berug vir talle rowerbendes wat in die berge geskuil het. Wanneer Paulus in 2 Kor 11:26 na die “gevare van rowers” verwys, het hy moontlik Pisidië in gedagte gehad. Dit is dalk die rede waarom daar so min bewyse van vroeë Christelike invloed in hierdie streek is.

Sidebar