PLAASBEKLEDING

PLAASBEKLEDING dui op die gedagte dat Jesus* Christus* in die plek van die mensdom gesterf het en God se straf* op hulle sonde* namens hulle gedra het. Hierdie gedagte kom meermale in die Nuwe Testament* voor. In Mark 10:45 word Jesus se dood as ’n “losprys* vir baie mense” beskryf. Die Johannes*-Evangelie verwys na Jesus as die “Lam* van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh 1:29). Paulus* gebruik die woord “vir” om dieselfde gedagte uit te druk, bv in 2 Kor 5:21: Christus is “sonde vir ons” gemaak (1933/1953-Afrikaanse Vertaling; 2014-Direkte Vertaling). In Gal 1:4 verwys Paulus na Christus wat Homself “vir ons sondes gegee het om ons te verlos”. In Hebreërs* word Christus as Hoëpriester* uitgebeeld wat Homself geoffer het “om die sondes van baie weg te neem” (9:28) en in 1 Pet 2:22-24 word na Christus verwys wat “self ons sondes in sy liggaam aan die kruis* gedra het”.

Sommige teoloë verwerp die gedagte van plaasbekleding en verstaan Jesus se kruisdood net as ’n bewys van God se liefde* vir mense of as ’n manier waarop God die mensdom met hulle eie bloeddorstigheid konfronteer. So ’n siening kan egter moeilik met die Bybelse gegewens versoen word.

Sidebar