PLAATJIES-VAN HUFFEL, MARY-ANNE

PLAATJIES-VAN HUFFEL, MARY-ANNE (1959–) is met ds David van Huffel van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA)* getroud. Ná die verwerwing van haar BTh (Hons) aan die Universiteit van Wes-Kaapland, word sy in 1991 die tweede vroueproponent in die destydse NG Sendingkerk*. Die volgende jaar word sy in Robertson-Oos as die eerste vrouedominee in die hele NG Kerkfamilie* georden.

In 2002 word sy as aktuarius* van die VGKSA se Sinode* Kaapland verkies, later as moderator van dié streeksinode en uiteindelik as moderator van die Algemene Sinode van die VGKSA almal eerstes vir ’n vrou in hierdie kerk. Sy word ook adjunk-president van die Wêreldraad van Kerke* met verantwoordelikheid vir Afrika.

Vir haar meestersgraad ontwikkel Plaat­jies-Van Huffel ’n multi-dissiplinêre bena­dering tot die rehabilitasie van prostitute, en in 2003 promoveer sy aan die Unive­r­siteit van Suid-Afrika in die sistematiese teologie* (dogmatiek*) oor Vroue in die teologiese antropologie in die Afrikaanse gerefor­meer­de tradisie. Haar promotor was ’n ander bekende vrou in kerklike kringe, prof Christina Landman*. Dié studie behels ’n poststrukturele en feministiese* benadering tot vroue in die Afrikaanse gereformeerde* tradisie. Dit lewer ’n belangrike teologiese bydrae tot die wêreldwye debat oor poststrukturalisme. Daarin daag sy Afrikaanse gereformeerdes* uit om hulle eie mensbeskoulike voorveronderstellings tot tekste wat hulle lees, krities te ondersoek. Mettertyd behaal sy ook ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria in die kerkreg* en word professor in kerkgeskiedenis en kerkreg aan die Teologiese Fakulteit, Universiteit Stellenbosch.

 

Sidebar