PLAE

PLAE. As algemene verwysing na ’n oor­deel van God, kan die begrip plaag dui op ’n siekte of pes (1 Sam 6:4) of natuurrampe (1 Kon 8:37). Die eerste verwysing na “plaag” is die beskrywing van hoe die farao* deur die Here* gestraf word omdat hy onwetend die getroude Sarai* as vrou neem (Gen 12:17).

In die volksmond word die begrip “plae” met die sg “tien plae” van Egip­te* in verband gebring, maar daar is slegs ’n enkele uitdruklike verwysing in Eksodus* na dié gebeure as ’n plaag (Eks 11:1). Daar word oor die algemeen na die “tien plae” verwys as “tekens”, “wonders” en “magtige dade” wat as voorbeelde van God se mag moet dien en aanleiding moet gee tot die redding van Israel* uit Egipte (Eks 7:3; Deut 6:22; 7:19; Neh 9:10; Ps 135:9; Jer 32: 20-21).

Die eerste nege plae in Egipte kan volgens lengte in groepe van drie onderver­deel word, waar elke groep uit twee lang en een kort beskrywing bestaan (Eks 7:14–10:27): 1. water word bloed; 2. paddas; 3. muggies; 4. steekvlieë; 5. pes onder die vee; 6. swere; 7. hael; 8. sprinkane en 9. drie dae donkerte. As klimaks vind die aankon­diging en voltrekking van die dood van die eersgeborenes plaas (Eks 10:28–11:10 en 12:29-30), wat die beskrywing van die in­stelling van die Paasfees* omraam (Eks 12:1-28).

Daar bestaan talle pogings om die “tien plae” met natuurverskynsels in verband te bring – so word die water se verandering in bloed in verband gebring met die jaarlikse oorstroming van die Nyl* wanneer rooi­kleurige modderwater tot allerlei “plae” aanleiding gee. Die teologiese betekenis van die “plae” is egter duidelik: Dit gaan oor tien wonderdade wat as tekens van God se almag moet dien en wat die farao moet oortuig om die Israeliete vry te laat.

 

Sidebar