PLANETE

PLANETE. In Gen 2:19 lees ons dat God die diere en voëls wat die Here* uit grond gevorm het, na die mens* toe gebring het “om vas te stel hoe hy elkeen sou noem, en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees”. Die mens het ook aan nie-lewende dinge naam gegee, en uiteindelik – nadat mense ontdek het dat die Aarde nie plat is nie, nie om die Son draai nie en ook nie die middelpunt van die heelal is nie – hulle die reg toegeëien om aan hemelliggame ver van die Aarde af name te gee, en op die koop toe te besluit wat hulle is. So het die Internasionale Astronomiese Unie in 2006 besluit dat, om as “planeet” in ons sonnestelsel beskou te word, ’n hemelliggaam om die Son moet wentel, dit massief genoeg moet wees vir sy eie swaartekrag om rigiede kragte te oorkom om dit te trek tot ’n byna ronde (sferiese) vorm, en dat sy wentelbaan sonder inmenging van ander planete moet wees. Klassieke planete is volgens hierdie klassifikasie (die deur die mens so ge­noemde) Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus. Pluto, wat voorheen as ’n klassieke planeet beskou is, is nou ’n “dwergplaneet”. Dwerg­planete is planete in die buurt van ander se wentelbane, maar hulle mag nie satelliete (mane) wees nie.

Nuwe navorsing dui daarop dat meer as ’n derde van die reuse-planeetstelsels wat buite die Aarde se sonnestelsel bestaan, waarskynlik Aarde-agtige planete bevat waarvan baie oortrek is met enorme oseane. Prof Sean Raymond van die Univer­siteit van Colorado, wat studie in hierdie verband gelei het, sê daar is ’n “nuwe klas van planete” wat moontlik bewoonbaar is in sonnestelsels anders as ons s’n. Hy meen daar kan lewe op dié planete wees. Maar enige sulke lewe sal baie anders wees as die lewe op die Aarde.

Vir verdere lees: Die Burger, 25 Augustus 2006; Science, 8 September 2006.

 

Sidebar