PLANTE IN DIE BYBEL

PLANTE IN DIE BYBEL. Die Bybel* verwys na heelwat plante. In die bespreking daarvan is daar ’n paar foute wat vermy moet word. In die eerste plek is konsepte soos genus en spesie moderne klassifika­siesis­teme. Die Bybel was meer geïnte­resseerd in die gebruike en voorkoms van plante. Verder is daar heelwat verskille in die vertaling van woorde wat na plante verwys. ’n Blote vergelyking tussen vertalings sal dit bewys. Dikwels mag ’n enkele woord na baie verskillende plante in ons verwysing­raamwerk verwys. Onsekerheid oor wat ’n bepaalde term beteken, bring ook mee dat die vertalings nie altyd presies kan wees nie en dan moet óf die konteks óf vergely­kende studies hiermee help. Ander kere gebruik die Bybel verskillende woorde om na dieselfde plante te verwys, soos in die geval van distels en dorings. Ons kyk vervolgens na plante in terme van hulle huishoudelike gebruike, hulle medisinale waarde en veral hulle illustrasiewaarde in die verkondiging in die Bybel.

Huishoudelike gebruike: Baie plante het deel uitgemaak van die kos wat mense elke dag geëet het. Slegs enkele voorbeelde hiervan word genoem. Baie plante is aangeplant of gesaai soos in die geval van graan­kosse, boontjies (2 Sam 17:28), komkommers (Num 11:5; Jes 1:8; Jer 10:5) en lensies (Eseg 4:9). Vrugtebome het ook ’n belang­rike rol gespeel. Talle voorbeelde van vrugte in die Bybel is bekend soos druiwe (Num 13:23), appels (Spr 22:11; Hoogl 2:5), appelkose, dadels (Joël 1:12), vye (Num 13:23), granate (Joël 1:12), olywe en die vrug­te van die wildevyeboom.

Plante het ook verskeie kruie en speserye gelewer wat ’n belangrike rol in huishou­dings en in die handel gespeel het. Voor­beelde wat genoem kan word, is bitterkruie (Eks 12:18), kaneel en kalmoes (Eks 30:22-32), knoffel (Num 11:5) en komyn (Jes 28:27). Sommige plante is benewens in kos, ook vir parfuum gebruik. Voorbeelde hiervan is koljander (Eks 16:31), kruisement (Matt 23:23; Luk 11:42) en mirre (Matt 2:11).

Medisinale gebruike: Sommige plante is as geneesmiddels gebruik. Van die bekendstes is die aalwyn (Spr 7:17), balsem vir wonde (Jer 8:22), die liefdesappel wat liefde en vrugbaarheid bevorder (Gen 30:14-16), nardusolie (Mark 14:3-6), hisop vir reiniging (Lev 14:4), wynruit (Luk 11:42) en prei (Num 11:5).

Illustratiewe gebruike: Die natuur speel ’n belangrike rol in die beeldspraak van die Bybel. Dit is dus nie vreemd om verwysings na plante te vind waarmee godsdienstige waarhede tuisgebring is nie.

Plante beeld dikwels lewe, groei en oorvloed uit. ’n Goeie voorbeeld hiervan is Ps 1 waar die regverdiges voorgestel word as bome wat langs water staan, vrugte oplewer en waarvan die blare nie verwelk nie. Dit beeld ’n kwaliteit lewe uit. ’n Soortgelyke beskrywing kom in Jer 17:7-8 voor. Benewens lewe, beeld plante ook groei uit in kontras met stagnasie en verval. In Jes 61:11 word oorwinning en lofprysing van die Here vergelyk met plante wat uit die grond uitspruit en vrugte oplewer. Spr 2:12-13 beeld die mooiheid en die groei van die liefde uit met ’n toneel van reën wat op die aarde val. In reaksie daarop verskyn die bloeisels, die voorvye kom uit en die wingerdbloeisels versprei hulle geur. Dit pas ook goed in by die beeld van oorvloed en voorspoed. In Eseg 47:12 word ’n toneel geskilder van bome aan weerskante van ’n rivier wat vrugte as kos oplewer, boomblare wat nie verwelk nie en vrugte wat elke maand groei. Volgens Deut 8:7-8 sal die beloofde land ryk wees aan graan en vrugte, ’n uitbeelding van ideale toestande en voorspoed. Ps 103:15 vergelyk ’n mens se lewe met ’n veldblom wat oopgaan en Ps 128:3 vergelyk kinders met olyfboompies en seuns met volgroeide plante (Ps 144:12). Die Bybel verwys ook na rose soos die roos van Saron. Soms word die woord vir roos vertaal met affodil (Hoogl 2:1; Jes 35:1).

Waar plante dikwels lewe uitbeeld, word dieselfde beeld ook vir verganklikheid, dood en verval gebruik. Plante wat groei, kan ook doodgaan en verdor. Jes 28:4 verwys bv na ’n blom wat verwelk en Ps 102:4 na gras wat uitdroog. 1 Pet 1:24 verwys na ’n mens soos ’n blom wat afval en gras wat verdor (ook Jak 1:11). Die vinnige verganklikheid van voorspoed word ook deur die beelde van blomme en gras uitgebeeld (Ps 103:15-16; 90:5-6; Jes 40:6-7).

Jesus* het dikwels in sy gelykenisse na plante in die natuur verwys. Voorbeelde hiervan is die saad wat gesaai word (Luk 8), onkruid (Matt 13:24-30), suurdeeg (Matt 13:33) en die mosterdsaad (Matt 13:31). In Matt 6:28 word die roem van Salomo* met die natuurlike skoonheid van lelies vergelyk. Die vergelyking van geloof met ’n mosterdsaad in Matt 17:21 is veral van belang. Riete het ook algemeen voorgekom soos aan die oewer van die Nyl*. ’n Belangrike positiewe beeld oor die riet kom in Matt 12:20 voor waar gesê word dat Jesus die geknakte riet nie sal afbreek nie. Plante soos die wingerdstok beeld dikwels om­stan­dighede van veiligheid en voorspoed uit (Jes 5:7; Hos 10:1; Eseg 17 en 1 Kon 4:25). ’n Klassieke verwysing na die beeld van die wingerdstok is waar Jesus in Joh 15:1-8 van Homself praat as die ware wingerdstok waarby God se kinders as lote ingevoeg is. As hulle in Hom bly, dan dra hulle baie vrugte. In Miga 4:4 word na ’n tyd van vrede verwys wanneer mense sorgeloos onder hulle eie wingerd en vyeboom sal sit. Uitbeeldings van plante word ook aangetref as versierings in die tempel*. Van die pilare, deure en mure is versier met uitbeeldings van lelies, granaatplante en amandelbloeisels (1 Kon 6:29, 32; 7:15-22, 26).

In die negatiewe sin word plante onder andere gebruik om boosheid (sondige mense) uit te beeld met die vergelyking van onkruid wat die goeie saad (mense van die koninkryk) verdring (Matt 13:24-30). Do­rings en distels word ook dikwels in nega­tie­we vergelykings gebruik. ’n Voorbeeld hiervan is die vloek oor Adam* in Gen 3:18. Daar word redelik baie na verskillende soorte dorings in die Bybel verwys (Rig 8:7, 15). Dorings beeld dikwels totale verwoes­ting uit (Jes 24:13; Hos 9:6). Verder lewer die woestyn ook plante op wat as verwysende materiaal gebruik word. Deut 29:18 verwys na mense wat ander gode dien as gifwortels wat ander kan vergiftig. Jer 9:15 verwys na straf vir ontrouheid aan die Here, deurdat Hy vir hulle wildeals sal gee om te kou (ook Op 8:11).

Vir verdere lees: JD Douglas 1996. New Bible Dictionary. Leicester: IVP.

Sidebar