PLATONISME EN NEO-PLATO­NIS­ME

PLATONISME EN NEO-PLATO­NIS­ME. Plato (427–347 vC) word met reg be­skou as een van die grootste denkers van alle tye en kulture. Hy was die eerste Griekse denker van die antieke tyd wat ’n omvattende, sistematiese, filosofiese be­skouing uitgewerk het oor die wese van die werklikheid, die aard van ware kennis, ’n deug­same lewe, die doel van opvoeding, die inrigting van die staat*, en nog vele ander belangrike aspekte van die menslike be­staan – alles gebaseer op redelike denke. Sy invloed op die verdere ontwikkeling van die Westerse filosofie tot vandag toe, is so onskatbaar, dat ’n belangrike filosoof uit die moderne era, AN Whitehead, opgemerk het dat al die filosofiese werke wat opgele­wer is ná Plato, eintlik maar net voetnote by sy geskrifte is. Die meeste van sy ge­skrifte is in dialoogvorm, op sigself literêre kunswerke, maar die gevolg is dat geleerdes die geheelbeeld van sy filosofiese be­skouing as ’t ware daaruit moes abstraheer – en dit het weer in die geskiedenis aanleiding gegee tot verskillende “skole” van Platonisme.

Miskien is die belangrikste insig van Plato, waarop die totaliteit van sy denksisteem gegrond is, die volgende: Ons lewe in ’n wêreld van verandering waarin die meeste dinge, onsself inkluis, voortdurend ontstaan, vir ’n kort tydjie bestaan, en dan weer vergaan. Nogtans kan ons te midde van dié verganklikheid van alles, ’n soort onveranderlike identiteit of wesenheid van elke ding en saak herken. Omdat hierdie identiteite (idees of ideële vorms) tydloos en onveranderlik is, bestaan hulle onaf­hank­lik van die dinge in ’n Ideëryk. Die dinge en sake in die wêreld van ons waar­neming is veranderlike, onvolmaakte vorms (afskaduwings) van die volmaakte idees in die Ideëryk. Ware kennis is kennis van die idees. Plotinus (205–270 vC) en sy navolgers het nuwe inhoud gegee aan Plato se denksisteem in wat as Neo-Platonisme bekend staan. Dit leer dat daar ’n goddelike oorsprong of hoogste beginsel is waaruit alles wat bestaan, voortkom, en wat binne alles bestaan – ’n vorm van panteïsme*.

 

Sidebar