PLAYER, GARY

PLAYER, GARY (1935–) het ’n legende in sy eie tyd geword. Hy is een van die suksesvolste internasionale gholfspelers van alle tye en bekend vir sy uitgesproke Chris­tenskap, sy toewyding aan uitnemendheid en sy beginselvastheid. Hy is in Johannes­burg gebore as die seun van ’n mynwerker. In 1953 begin hy beroepsgholf speel, maar word in Engeland aangeraai om ’n ander beroep te kies omdat hy nie ’n suksesvolle beroepspeler sou word nie.

Sy deursettings- en uithouvermoë bewys sy kritici gou verkeerd. In 1956 wen hy die Dunlop Meesters in Sunningdale en die eerste van dertien Suid-Afrikaanse Ope-kampioenskappe. Player was die enigste gholfspeler van die 20ste eeu wat daarin kon slaag om die Britse Ope in drie verskillende dekades te wen. Hy is getroud met Vivienne en hulle het ses kinders. Onder die dosyne toekennings wat Player wêreldwyd ontvang het, is die Orde van Ikhaman­ga (Klas Goud) wat deur pres Thabo Mbeki* aan hom toegeken is vir sy gholfprestasies en sy bydrae tot nie-rassige sport in Suid-Afrika. Player se voorbeeld as Christen-sportman in sy private en openbare lewe dien vir baie tot inspirasie.

 

Sidebar