PLEKNAME EN GODSDIENS

PLEKNAME EN GODSDIENS. Sedert die vestiging in 1652 van die Protestants-gereformeerde* geloof aan die Kaap het die Statebybel* as basis en riglyn gedien vir die meerderheid van die inwoners van Euro­pese oorsprong. Vir bykans twee eeue was dit selfs die enigste leesstof vir baie van die afgeleë boeregesinne, asook vir nomadiese trekboere en later die Voortrekkers*. Die invloed van dié Bybel van die VOC*-era (1652–1795) kan nouliks oorskat word. Kerk­like samekomste en huisgodsdiens, asook die daaglikse omgang, taal en kultuurgebruike was deurspek met Bybelse woorde, uitdrukkings en handelswyses. Dit is gevolg­lik byna vanselfsprekend dat die naam­gewing van persone, plase, dorpe, stede en distrikte deur die Bybel beïnvloed sou word. Die aard en omvang van hierdie verskynsel is selfs in universele konteks verstommend. Van die plekname is regstreeks aan die Bybel ontleen, maar baie daarvan weerspieël die rol van kerkleiers, predi­kante*, sendelinge*, teoloë en kerkhistoriese gebeurtenisse. Die landwye stigting van kerkdorpe waar selfs die erwe deur die kerk verkoop is – gewoonlik om finansies vir die oprigting van ’n kerkgebou te bekom – het verdere momentum aan dié tendens gegee. Die meeste dorpe met ’n Afrikaanse karakter het gewoonlik ook sy tradisionele Kerkstraat.

Die volgende meestal selfverduideli­kende plekname illustreer voorbeelde van dié tendense:

Bybelse plekname: Bethlehem, Bethels­dorp, Nieu-Bethesda, Mamre, Zoar, Daniëls­kuil (wat na ’n geologiese insinking verwys), Genadendal, Salem, Nasareth – later Middel­burg (Mpumalanga) – Mara, Bethulie, Dal Josafat en Nylstroom.

Persoonsname: Calvinia (genoem na Calvyn), Robertson en Sutherland (twee voorbeelde van verskeie dorpe wat na Skotse* leraars genoem is), Lindley, Kestell, Paul Roux, Postmasburg, Albertinia, Philip­polis (genoem na dr John Philip*), Butter­worth en Lovedale is van die talle name wat geassosieer word met kerklike persoonlikhede. Selfs ’n streek soos die Richtersveld is genoem na ’n Duitse sendeling.

Buitelandse plekname met godsdiens­tige assosiasies: Heidelberg (beide Suid-Afrikaanse dorpe is genoem na die Heidel­bergse Kategismus*), Dordrecht (verwys na die Dordtse Sinode van 1618–1619), Aber­deen (geboorteplek van ds Andrew Mur­ray*1) en Amersfoort (na die Nederlandse dorp) is enkele voorbeelde van plekname in dié kategorie.

Kritiek teen die sg (wit) koloniale/apartheidskarakter* van die name van plekke/dorpe/strate/standbeelde het in die 21ste toegeneem en daar is aangedring dat sommige (selfs al) sulke name verander moet word. In party gevalle het dit gebeur.

Vir verdere lees: PJ Nienaber 1971. Suid Afrikaanse pleknaamwoordeboek, deel 1. Kaapstad: Tafelberg (namens die RGN).

 

Sidebar