PLURALISME

PLURALISME in die teologie* en gods­diensfilosofie is die standpunt dat verskillende godsdienste ’n gelyke aanspraak op waarheid het, en dat die een dus nie as “beter” as die ander geag kan word nie. Drie standpunte kan binne hierdie breë benadering onderskei word.

’n Eerste groep denkers beweer dat alle godsdienste wel normatief is aangesien hulle almal essensieel dieselfde is. Hulle aanbid almal dieselfde God en is dus almal legitieme response op dieselfde werklikheid. ’n Tweede standpunt is dat verskillende godsdienste nie almal dieselfde is nie, maar dat hulle wel almal ewe normatief of “waar” is, aangesien hulle nie werklik met mekaar vergelyk kan word nie. Die norme in terme waarvan uitgemaak word of ’n godsdiens waar is, behoort eksklusief tot ’n bepaalde godsdiens, en kan dus nie op ’n ander godsdiens van toepassing gemaak word nie (dus “eksklusivisme”). ’n Derde standpunt binne die breë pluralistiese benadering voer aan dat godsdienste nóg dieselfde, nóg relatief is. Hulle is nie almal ewe normatief nie, maar hulle normatiwiteit word bepaal deur die mate waarin hulle in staat is om ander benaderings en insigte in te sluit, dit is, om verryk en getransformeer te word deur ander benaderings (dus “inklusivisme”).

Vir verdere lees: John Hick 1989. An Interpretation of Religion. Londen: Macmil­lan; DJ Louw 1995. Pluralisme en konflik: Die probleem van verskillende godsdienste se botsende aansprake op waarheid. Universiteit van Stellenbosch: Ongepubli­seerde doktorale verhandeling.

 

Sidebar