PLURIFORMITEIT VAN DIE KERK

PLURIFORMITEIT VAN DIE KERK. Christene bely almal die eenheid* van die kerk as ’n geloofswaarheid. Hoe moet die verskeurdheid van die kerk in talryke denominasies dan beskou word? Abraham Kuyper* het met die oog hierop die leer van die pluriformiteit van die kerk ont­werp. Met hierdie teorie wou hy die toe­stand van kerklike verdeeldheid regverdig. Hy het die veelheid van kerke aangeprys as ’n bewys van die rykdom van die Chris­telike lewe en ’n openbaring van die veel­kleurige wysheid van God. Dit is te om­vang­­ryk om in net één kerk uit te druk!

Daar is deur die jare heftige kritiek op Kuyper se opvatting uitgespreek. Tereg is gesê dat sy standpunt konsekwent tot relativisme (die waarheid het baie kante en geen kant is op sigself heeltemal waar nie) en indiwidualistiese subjektivisme (elkeen maak ’n kerk soos hy/sy wil) moet lei. Al word die pluriformiteitsleer afgewys, kan ’n verskeidenheid in die een Christelike kerk egter nie ontken word nie. Eenheid hoef nie eenvormigheid te wees nie. Veral in ons veelvolkige land kan die etniese en kultu­rele konteks van verskillende bevolkingsgroepe as ’n regmatige beginsel vir kerklike verskeidenheid – verkieslik binne een kerkverband – erken word. Verskeidenheid kan egter nie as argument gebruik word om verskeurdheid te regverdig nie.

Die ideaal van een kerk mag ons natuurlik nie verhoed om steeds dié eenheid in die waarheid van die suiwer leer te soek nie. Daarsonder sal dit ’n vals eenheid wees.

 

Sidebar