PNEUMATOLOGIE

PNEUMATOLOGIE is die leer oor die Heilige Gees*. Hoewel die Heilige Gees as derde Persoon binne die Goddelike Drie-eenheid* (una substantia, tres personae – “een Wese, drie Persone”, soos geformuleer deur Tertullianus*) reeds in die Ou Testa­ment* aanwesig is, ontwikkel die teologiese verstaan van die Heilige Gees eers in die Nuwe Testament*. Christus* verwys na die Heilige Gees as Voorspraak* wat van die waarheid sal getuig: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid” (Joh 14:16-17, 1983-Afrikaanse Vertaling; die 2014-Direkte Vertaling gebruik die woord “Parakleet” en verklaar dit dan in ’n voetnoot: “Parakleet: Die Griekse* woord verwys na iemand wat geroep is om bystand te verleen – ’n voorspraak, pleitbesorger, trooster, helper”.) Die boek Handelinge* begin met die belofte dat die gelowiges met die Heilige Gees gedoop sal word (Hand 1:5) en die uitstort van die Heilige Gees (Hand 2) word beskou as die begin van die geïnstitusionaliseerde kerk*. Die Nuwe Testament verwys na die Heilige Gees as die Gees van Christus.

Binne die Oosterse en Westerse kerk het in die vroeë eeue die vraag ontstaan wat die verhouding tussen Christus en die Heilige Gees is. Dit word as ’n belangrike vraag in die pneumatologiese leerstuk be­skou. Die Oosterse kerk, onder die invloed van die Kappadosiërs, handhaaf die we­sens­eenheid tussen die Vader*, Seun* en Heilige Gees, hoewel daar vir hulle drie duidelik onderskeibare selfstandighede is wat selfs van ’n blywende en substansiële aard is. Die Westerse kerk handhaaf die eenheid van God eerder as die verskeidenheid van die drie Persone. Onder invloed van Augustinus* dink die Westerse kerk oor die eenheid van God as die selfstandigheid van die drie Persone wat van ewigheid af bestaan as Vader, Seun en Heilige Gees. Nou het die vraag ontstaan of die Heilige Gees slegs van die Vader uitgaan of ook van Christus? Die Sinode van Toledo (589) het aanvaar dat die Heilige Gees ook van Christus uitgaan en die formulering filo­que* – “en van die Seun”aangeneem. Die toevoeging “en van die Seun” het die eenheidskarakter van die Goddelike Drie-eenheid bevestig. Hiermee het die Westerse kerk ook laat blyk dat sy, naas die openba­ring in Christus, geen ander of beter openbaring ken nie.

Sidebar