POLIKARPOS

POLIKARPOS (circa 69–155) het, terwyl hy die marteldood gesterf het, verklaar dat hy reeds 86 jaar lank ’n Christen* is. Moontlik kan ’n mens ook hierin iets van die toe al bestaande praktyk van die kinderdoop* lees. Hy het in die tydperk geleef waarin die Christendom* vinnig gegroei het, waarin die eerste geslag Christene en apostels* verdwyn het, en die vervolging deur die Romeinse owerheid (Kyk by: Romeinse Ryk) feller geword het. Dit is ook die tyd waarin verskeie afwykende dosetistiese (Kyk by: Dosetisme) en gnostiese (Kyk by: Gnostisisme) rigtings na vore gekom het, die vasstelling van die kanon* tot volvoe­ring gekom en die mag van die biskop* van Rome gegroei het.

Polikarpos was reeds biskop* van Smirna toe Ignatius* van Antiogië onderweg na die marteldood in Rome en in opvolging van hulle byeenkoms in Smirna, aan hom ge­skryf het. Die enigste geskrif van Polikarpos wat ons het, is ’n brief aan die Christene in Filippi in antwoord op navrae oor verskeie sake. Daaruit blyk dat hy ’n ongekompliseerde, reguit mens was met ’n pastorale en evangeliese hart soos dit ’n “apostoliese en profetiese onderwyser” (Mart Poli 16:2) betaam. Hy het ook kontak met Irenaeus*, later die biskop van Lyon, gehad, en het Marsion* uitgedaag. Laat in sy lewe het hy met pous* Anisentus debat gevoer oor die datum van Paasfees*.                 

Sidebar